Rooispinnekop en Europese rooimyt word nou die eerste keer in Suid-Afrikaanse appelboorde suksesvol biologies bestry deur 'n myt daarteen in te span. Dié deurbraak is die gevolg van jare lange navorsing deur die Universiteit van Stellenbosch.
Appelboere in die omgewing van Elgin kan moontlik een van die dae werklik ontspan wanneer dit by twee van hul grootste aartsvyande kom, naamlik rooispinnekop en Europese rooimyt. Albei hierdie myte rig elke jaar groot skade aan in appelboorde in die Wes-Kaap.
Dr. Ken Pringle, 'n insektekundige verbonde aan die Fakulteit Landbou- en Bosbouwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, wat in beheer van die navorsing staan, sê die universiteit se navorsingsprojekte het die afgelope sowat 18 jaar nou 'n punt bereik dat biologiese bestryding grootliks in die appelboorde in die omgewing van Elgin ingespan kan word en die bespuiting met chemiese middels feitlik onnodig geword het deur die suksesvolle gebruik van 'n predatoriese myt.
Pringle doen reeds sedert 1986 intensief navorsing oor die biologiese bestryding van myte in die Elgingebied. Van die navorsingsresultate sal waarskynlik ook van belang wees vir boere in ander appelproduksiegebiede, soos Ceres en die Langkloof.
Die myte suig die sap uit die blare. Dit laat die blare vergeel en afval. Teen die einde van die seisoen trek hulle in kolonies saam in die kelk- en stingelend van die vrugte, wat veroorsaak dat sulke vrugte vir uitvoer afgekeur word.
Chemiese bestryding is nie suksesvol nie omdat die myte weerstand opbou teen spuitmiddels. Die natuurlike predatore wat vir die biologiese bestryding van myte gebruik word, veroorsaak geen probleme nie. Boonop is daar geen gevaar van gifoorblyfsels op die vrugte nie, wat die bemarking daarvan in ander dele van die wêreld makliker maak.
In hul soeke na 'n biologiese oplossing het Pringle en sy span met vyf verskillende predatoriese myte gewerk. Twee hiervan is inheems, een is spesiaal uit Kalifornië ingevoer, en twee het spontaan verskyn.
Van hulle is Neoseiulus californicus, in leketaal bekend as californicus, wat waarskynlik inheems in Amerika is, maar op onverklaarbare manier in Suid-Afrika verskyn het, die doeltreffendste soort.
Dit lyk of dit goed in die appelproduksiegebiede in die suidweste van die land aangepas is. Dit het vir die eerste keer gedurende die seisoen 1994/95 in die Elgingebied voorgekom, waarna dit na die Langkloof versprei het en ook in Ceres vrygelaat is. In Elgin is bevind dat californicus op ander organismes voed in die afwesigheid van rooispinnekop en dat daar dus reeds 'n gevestigde bevolking is wanneer die rooispinnekoppe verskyn, sê Pringle.
Hy sê myte is nie insekte nie, maar nader verwant aan spinnekoppe. Die rooispinnekop (ook 'n myt) spin selfs webbe op die blare. Hulle het 'n eierstadium en drie onvolwasse stadia. In die eerste van die stadia is hulle sespotig, en die ander twee, sowel as die volwasse stadium, is hulle agtpotig soos spinnekoppe. In gunstige toestande duur hul lewensiklus (van die eier- tot die volwasse stadium) so kort as twee weke, wat beteken dat hulle vinnig aanteel.
11 Junie 2004