
Vir Jan Alleman het dit moontlik gelyk asof dagtake op plase wat deur die drankverbod geraak is, stilgestaan het, maar agter die geslote deure van die verbod het die rook gedraai soos almal planne beraam en hard gewerk het om steeds die wiele aan die rol te hou. Een so ’n wynplaas was die Groote Post-landgoed, waar lede van die Landbouskrywers SA se !Xhariepstreek onlangs besoek afgelê het.
Mnr. Nick Pentz, wat die boerdery saam met sy pa, Peter, bedryf, sê hulle is baie dankbaar dat hul boerdery bestaan uit die Rooi Angusstoettery Groote Post, die skaap-, wyn- en wildtoerisme-afdeling, want die ander bedrywighede op die plaas het hulle gehelp om tydens die verbod alles aan die gang te hou. “Met die instelling van die eerste drankverbod het ons finansieringsbehoeftes byna oornag verdubbel. Ons het elke moontlike plan beraam om dinge deur te sien. Ons het net geweet ons kan nie enige van ons werkers laat gaan nie. Hier is werkers en hul families wat al 20, 30 en 40 jaar deel is van die boerdery.”
Nick sê met behulp van bemarking en danksy die goeie vleispryse het die boerdery se bruto inkomste in 2020, teenoor 2019, gegroei hoewel hul verkope van bottels wyn op ’n jaargrondslag met 7% gedaal het. Altesaam 80% van Groote Post se sowat 350 000 liter wyn word plaaslik verkoop, en 20% word uitgevoer.
Aanlynbemarking
Die wynafdeling se databasis van klante wat oor die afgelope 20 jaar opgebou is, was vir hulle goud werd. “Maar ook die talle nuwe lede en kopers wat ons gedurende die verbod bygekry het,” sê Nick.
Dit was ’n groot kwessie om te weet hoe om die bemarking te behartig tydens veral die eerste verbod van Maart tot Mei 2020, want groot onsekerheid het geheers oor wanneer die verbod opgehef sou word. “Ons het sowat drie weke voor die verbod opgehef is ernstig begin om aanlyn te adverteer dat klante by ons wyn kan bestel wat afgelewer sal word sodra die verbod opgehef is.”
En toe die verbod opgehef is, het almal op die plaas wat voertuie tot hul beskikking gehad het, wynbestellings afgelaai. “Binne vier dae kon ons al die bestellings afhandel van klante wat binne 100 km van ons af was. Ons is dankbaar dat ons oor die jare heen goeie verhoudings met koeriermaatskappye kon opbou. Dit was vir ons goud werd om ons bestellings vinnig elders in die land afgelaai te kry.”
Verhoudings en vertroue
Die boerdery se kultuur van die uitbou van goeie verhoudings is nie net iets wat onder die 60 tot 80 werkers wat gedurende die jaar op die plaas werk, beoefen word nie. Die kultuur word ook toegepas ten opsigte van aanlyn en direkte bemarking, asook interaksie met gebruikers op sosiale media.
“Ons ken die besonderhede van elkeen van ons wynklub-vriende en persoonlike interaksie en kommunikasie met elkeen van hulle is vir ons belangrik,” vertel Nick.
“Tydens elke drankverbod het ons voortgegaan om hierdie wynklub-vriende te kontak, hetsy via e-pos of telefonies, om steeds met hulle interaksie te hê en seker te maak hul wynbestellings kom by hulle uit sodra ons weer kon aflewer,” vertel mnr. Peter Pentz jr., kommunikasiebestuurder by Groote Post. “Daar is ook vir elkeen wat ons gedurende ’n verbod ondersteun het, ’n handgeskrewe kaartjie by hul bestelling ingesluit om hulle te bedank vir hul ondersteuning.”
Peter sê die impak van
platforms soos Save SA Wine, wat op Facebook begin is, moet ook nie onderskat
word nie. “Dit was ’n riem onder die hart om te sien dat die verbruikers van
Suid-Afrikaanse wyn besluit het hulle moet nou iets doen, aktief deelneem en
wyn koop.”
Nick en Peter sê sedert die verbod opgehef is, ervaar hulle dat meer verbruikers aanlyn bestellings by hulle plaas – ook diegene wat dit nie voorheen gedoen het nie. “Dit kon wees dat van die verbruikers voorheen nie die stelsel vertrou het nie of dat hulle weens die inperking en reisbeperkings gedwing word om meer aanlyn aankope te doen en dit nou deel is van hul koopgewoontes.”
Die Pentz-familie sê hulle is wel baie dankbaar vir die voordeel wat die verandering in koopgedrag vir hulle besigheid bring, want dit stel hulle in staat om direk met hulle verbruikers te skakel.
Nick sê die Pentz-familie besef dat dit die bedryf nog jare gaan kos om van die impak van die verbod te herstel, “maar ons kan nie anders as om die silwer rand van die situasie te sien nie. En ons sal altyd onthou dat dit gaan oor die verbruiker se persoonlike ervaring met ons handelsmerk wat ons vorentoe sal neem.”