
“Dis ’n belaglike en ongevraagde voorstel,” sê Basson in sy repliserende verklaring in ondersteuning van die hofsaak tussen wynboere en -verenigings, Saai en die regering oor die verbod op wynverkope.
Basson beklemtoon dat sy sakefilosofie en -etos nog nooit deur Apartheid gevorm is nie. Hy was ook nog nooit lid van die Nasionale Party of ’n ondersteuner van die Apartheid-stelsel nie.
In sy aanvanklike verklaring het Basson voorgestel “koel groen areas” moet geïdenitifiseer word waar Covid-19-infeksies onder beheer is. Wynverkope in dié areas moet toegelaat word. In antwoord hierop het me. Nkosozana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gesê die beplanning in die regering word nie gedoen soos onder Apartheid nie, en dat Basson na koel groen areas verwys asof die land in silo’s woon en werk.
Hierop antwoord Basson: “Die regering het self die grendelstaat-regulasies voorsien waarin verwys word na die identifisering van warm kolle in verskillende stede, distrikte en provinsies. Soos ek verstaan, was die idee om verskillende maatreëls in verskillende areas toe te pas soos die behoefte ontstaan. Dis nie iets wat ek self uitgedink het nie. Dit lyk egter nou of die minister ’n u-draai gemaak het oor dié benadering.”
Basson, wat self ‘n wynplaas op Stellenbosch besit waarop 'n restaurant bedryf word, hou vol die drankverbod moet gelig word in koel groen areas. Hy meen die alternatief, dat die hele land onderwerp word aan die verbod omdat daar een of meer warmkolle oor is, is “skrikwekkend. Dit sal tot ekonomiese chaos lei.”
Hy sê as die beskikbaarheid van hospitaalbeddens in ’n spesifieke gebied nie ’n probleem is nie, is daar geen rede waarom wynverkope nie toegelaat kan word nie en mense ontneem moet word van ’n geleentheid om ’n inkomste te verdien.
Basson sê die verbod versteur nie net die balans in die wynbedryf nie, maar in die hele waarde- en verskaffingsketting.
“Ek vertrou die minister is nie ernstig as sy voorstel dat, omdat sy nie haar weg kan oopsien om die verbod vir die hele drankbedryf te lig nie, sy dit ook nie vir die wynbedryf kan lig nie. Dit is sinneloos om wynprodusente en alle mense wat van die wynbedryf afhanklik is, te straf.”
Basson het ook beklemtoon dat supermarkte oor die vermoë beskik om beperkings op wynverkope te beheer, sou die regering dit vereis.
“Net soos supermarkte tydens die aanvanklike grendelstaat die verbod op die verkope van hardeware kon beheer.”
Dit sal ’n redeliker maatreël wees as die totale verbod op wynverkope.