Om die verwerking van waatlemoene te vergemaklik, het die Nederlandse ingenieursfirma ZTI ’n spesiale waatlemoensnyer ontwerp wat op industriële skaal gebruik kan word. Die kompakte masjien kan ’n waatlemoen blitsvinnig in helftes, kwarte of in ses dele sny, en met twaalf vrugte per minuut klaarspeel.
Mnr. Hans Keijzer, eienaar van ZTI, reken dit is die eerste snyer van dié aard vir die industriële vrugtemark. Die eerste model is reeds die afgelope drie maande in werking by Fruity Pack in Nederland. “Langer raklewe is ’n belangrike faktor as dit by die verwerking van vrugte kom. Danksy die Watermelon Wedger is dit moontlik om die vrugte so versigtig moontlik te hanteer.”
Keijzer reken die uitstaande kenmerk van die ontwerp is die spesifieke vorm en funksie van die ses lemme wat op verskillende vlakke in die toestel geïnstalleer is.