
Boere wat deelneem aan Massmart se Ezemvelo-program sal teen Oktober na verwagting 3000 ton groente aan die groep lewer. Die maatskappy het verlede jaar 514 ton groente van dié boere vir sy winkels ontvang.
Die groep is volgens me. Sherry-Lee Singh van Massmart baie in sy skik met die groei van die program. Dit word gerugsteun deur ’n ontwikkelingsfonds van R100 miljoen wat 'n voorwaarde was vir die oorname van Massmart deur Walmart, berig Sake24.com.
Verlede jaar het 40 boere by die projek aangesluit, en agt maande later het 162 vir hulle groente gelewer. Die program het in Limpopo begin, maar sedertdien het dit na Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal uitgebrei.
Boere wat aan die Ezemvelo-projek deelneem ontvang opleiding, mentorskap, tegniese raad en ondersteuning om die regte finansiële en kleinhandelbesluite te neem.