Die verbruiker is die
saadmaatskappye se belangrikste kliënt en die dryfkrag in die bemarkingsketting
van groente. Daarom moet die behoeftes van die verbruiker van die grootste
belang wees vir die saadkweker, verkoopspan en produksiespesialiste van 'n
saadonderneming.
Die behoeftes van die verbruiker moet met die ontwikkeling van nuwe groentekultivars in ag geneem word. Só het dr. Piet Grobler, tegniese direkteur van die saadonderneming Hygrotech, gesê toe verskeie nuwe en interessante kultivars op dié onderneming se inligtingsdag buite Pretoria bekendgestel is.
Eienskappe soos beter en interessante kleure, mooier vorms, eenvormiger groente, wat ook 'n hoër voedingswaarde en 'n langer raklewe het sonder dat goeie smaak verlore gaan, is voorbeelde hiervan. Daarby moet die verbruiker seker wees die voedsel is veilig.
Om dít te bereik, moet saadtelers die beste tegnologie inspan om te verseker dat goeie oeste so goedkoop moontlik geproduseer kan word. Dít is waar die probleme begin, want die ontwikkeling van nuwe kultivars kos miljoene rande omdat net enkele bruikbare nuwe kultivars uit letterlik miljoene kruisings gekry word. Gelukkig baat die produsent hierby, want die nuwe kultivars gee beter opbrengste teen 'n laer insetkoste weens die goeie opbrengs. Spuitkoste en ander produksiekoste is ook laer. Dr. Grobler is opgewonde oor verskeie nuwe kultivars wat ontwikkel word. Van die kultivars is al geregistreer, of is in die proses om geregistreer te word vir kommersiële aanplanting. Hier is 'n paar voorbeelde. Tamaties
Fanny
is 'n kweekhuistamatie met 'n onbepaalde groeiwyse en dra vrugte met 'n gemiddelde gewig van 180 g. Die plante is groeikragtig en produktief en dra eenvormige vrugte wat effens platrond is. Die vrugte is ferm en het 'n eenvormige, helderrooi kleur. Dié tamatie kan ook buite geplant word. Dit bied goed weerstand teen verticilium, fusarium 2, die tabakmosaïekvirus, grysblaarvlek en aalwurms.
Volcanic
is 'n nuwe tamatie met 'n onbepaalde groeiwyse en met 'n baie hoë opbrengspotensiaal. Die plante is sterk en groeikragtig, met internodes van 'n mediumlengte. Die vrugte is rond en weeg gemiddeld 150 g, en hul vorm en kleur is baie eenvormig. Dit het 'n lang raklewe. Dié tamatie moet geoes word wanneer dit rooi verkleur het. Dit bied weerstand teen verticilium, fusarium 1 en 2, die tabakmosaïekvirus, stamkanker, grysblaarvlek, die tamatie-geelkrulblaarvirus, die kromnekvirus en aalwurms. Dit is semi-kommersieel.
BHN 98
is 'n nuwe tamatie met 'n onbeperkte groeiwyse. Dit dra mediumgrootte vrugte wat gemiddeld sowat 150 g weeg. Die vrugte is rond, met liggroen skouers. Die opbrengspotensiaal is hoog en dit bied weerstand teen verticilium, fusarium 2 en die tabakmosaïekvirus. Dit is semi-kommersieel.
Hytec 36
is 'n F1-baster vir die varsproduktemark. Dié goed aangepaste tamatie bied goeie weerstand teen siektes en dra goeie, super-ferm vrugte. Dit word as 'n somertamatie aanbeveel wat van Julie tot Maart uitgeplant kan word. Dit dra gladde, mediumgrootte vrugte (150 g tot 180 g) wat nie maklik bars nie en het 'n klein bloeisel-endletsel. Die opbrengspotensiaal van dié sterk, lewenskragtige plante met 'n beperkte groeiwyse is baie hoog omdat die plant oor 'n lang tyd dra. Dit bied weerstand teen verticilium, fusarium 2, die tabakmosaïekvirus, bakteriese verwelksiekte, aalwurms, stamkanker en grysblaarvlek.
Rock Star
is 'n nuwe baster met 'n hoë opbrengspotensiaal. Dié tamatie kan heel jaar in feitlik ál die produksiegebiede geplant word. Die vrugte is baie ferm en baie eenvormig. Hulle weeg in die somer van 180 g tot 220 g en in die winter van 150 g tot 180 g. Die vrugte het eenvormige groen tot liggroen skouers. Dit bied weerstand teen verticilium, fusarium 1, grysblaarvlek, stamkanker en bakteriese verwelksiekte. Dit is semi-kommersieel.
Ship Saint
is 'n uitstekende mediumgrootte peervormige kersietamatie. Dit is 'n onbepaalde groeier met 'n goeie opbrengspotensiaal en die vrugte kan in trosse geoes word. Dit is groeikragtig en kan in subtropiese gebiede in die lente, somer en herfs geplant word. Die skil is sterk, wat dit maklik maak om die tamaties te vervoer. Die vrugte is soet en het 'n uitstekende geur, en dit word in enkel- of dubbeltrosse gedra, met 6 tot 8 vrugte per tros wat gemiddeld sowat 30 g weeg. Dit bied weerstand teen verticilium, fusarium en die tabakmosaïekvirus. Dit is semi-kommersieel.
Zarina
is 'n kersietamatie met 'n onbepaalde groeiwyse. Dit het 'n uitstekende opbrengspotensiaal en die plante is baie groeikragtig. Dit dra eenvormige, ronde vrugte met 'n deursnee van 24 mm tot 32 mm. Die baie soet en sappige vrugte is dieprooi, ferm en het 'n goeie rakhouvermoë. Dit bied weerstand teen fusarium 1, die tabakmosaïekvirus en aalwurms. Dit is semi-kommersieel.
Santa is 'n soet, langwerpige kersietamatie wat vroeg ryp word. Die plant het 'n onbeperkte groeiwyse. Dit verdra hitte goed. Wanneer twee stamme gebruik word, kan een plant tot 500 vrugte dra in trosse van tot 60 vrugte per tros. Die vrugte is helderrooi, weeg gemiddeld sowat 14 gram, bars nie maklik nie, is soet en het 'n goeie rakhouvermoë. Dit bied weerstand teen laatroes, blaarvlek en die meeste virussiektes. Dit is semi-kommersieel. (Daar is in 'n vorige Landbouweekblad verwys na nóg twee nuwe kersietamatiekultivars, naamlik Natasha en Salomee.) Pampoene
HSC 114
is 'n ranker waarvan die vrugte binne 122 dae volwasse word. Dié pampoene het 'n deursnee van gemiddeld 26,5 cm en weeg gemiddeld 6 kg. Die skil is grys en baie glad, en die vleis is donkeroranje. Dit is semi-kommersieel.
Oak
is 'n nuwe vroeë pampoen wat bykans vier weke vroeër as soortgelyke tipes bekwaam raak. Die ranke groei vinnig en welig, en beskerm sodoende die vrugte teen sonbrand. Die vrugte is effens ronder en baie eenvormig, met 'n klein saadholte. Die gemiddelde grootte van die pampoene is 3,5 kg. Dit is semi-kommersieel.
Orange Magic
is 'n oranje dwerg-Hubbard en die vrugte weeg van 900 g tot 1,4 kg. Dit groei sowat 85 dae tot bekwaamheid en die vrugte word aan 'n semi-bosplant gedra. Die vrugte is bolvormig, met 'n soet, oranje vleis met 'n neutsmaak. Dit is semi-kommersieel.
Canesi is 'n nuwe, vroeë grys-neut ("butternut") met 'n hoë opbrengspotensiaal. Dit is 'n groot vrug met 'n dik nek. Die vleis is helderoranje en die saadholte klein. Die skil is geelbruin en glad. Die plante is baie groeikragtig. Dit is semi-kommersieel. Suikermielies
Gladiator
is 'n geel suikermielie wat geskik is vir die varsproduktemark en verwerking. Dit groei 80 dae tot bekwaamheid, die plante word 1,85 m hoog, dra een kop wat 170 mm tot 190 mm lank is, met goeie endvul. Dit bied weerstand teen gewone roes en noordelike mielie-blaarskroei.
Matador
is 'n geel suikermielie vir verwerking wat 85 dae tot volwassenheid groei. Die plante word 1,9 m hoog, dit is eenkoppig, oes maklik en die koppe word sowat 200 mm lank en 48 mm in deursnee. Dit bied weerstand teen gewone roes en noordelike mielieblaarskroei. Dit is semi-kommersieel.
XT277A is 'n tweekleurige suikermielie wat baie sag en soet is. Dit groei 78 dae tot bekwaamheid, die plant word 1,65 meter hoog, die kop is baie goed beskerm en word sowat 180 mm lank, met 'n deursnee van 46 mm. Dit het 16 rye pitte en bied weerstand teen gewone roes en noordelike mielieblaarskroei. Dit is semi-kommersieel. Okra
Verskeie nuwe okra-kultivars word beproef.
Een van die nuwes wat pas vrygestel is, is Cajun Delight
, 'n F1-baster. Dit is 'n vroeë tipe wat tot 'n mediumhoogte groei en 'n oop kroon het. Die peule is vyfpuntig, mediumgroen, eenvormig en sag. Dié kultivar het 'n baie hoë opbrengspotensiaal en is geskik vir vars gebruik of verwerking.
28 Maart 2003