
Alle piesangs word vir die plaaslike mark verbou. Dit vermy mededinging met ander produserende lande, wat gewoonlik groter piesangs lewer.
Israel verbou piesangs op tussen 4 000 ha en 5 000 ha, alles in nethuise langs die Meditereense kus en in die gebied rondom die See van Galilea.
“Die klimaat is veronderstel om meer gematig te wees. Temperature bereik net 32 °C, dis effe meer humied as die res van die land en die winters is nie so straf nie,” sê mnr. Ziv Charitt, landboukundige van Netafim wat spesialiseer in boomgewasse en wingerd.
’n Groep Suid-Afrikaanse boere besoek Israel saam met die besproeiingsmaatskappy Netafim. Hulle het onder meer ’n draai gemaak by die Zemach-navorsingsplaas in die omgewing van die See van Galiliea, waar verskeie proewe oor piesangproduksie gedoen word.
Die streek kry sowat 200 mm reën per jaar, maar ervaar reeds sowat ses jaar droogte. Danksy die droë klimaat het die boere nie probleme met siektes, soos Phytophthora of Panama-siekte, nie.
Hoewel Israeliese piesangproduksie al bykans 100 jaar terugstrek, het drupbesproeiing en netstrukture ’n omwenteling in die bedryf gebring.
Voorheen het piesangboere rondom die See van Galilea op vloedbesproeiing (met water uit die meer) staatgemaak, maar sedert drupbesproeiing 30 jaar gelede in die piesangbedryf posgevat het, kon hulle aansienlike waterbesparings aanteken.
“In die tyd van vloedbesproeiing is 10 000 mm tot 13 000 mm per hektaar per jaar toegedien, maar met drupbesproeiing het dit afgeneem tot sowat 3 000 mm per hektaar per jaar,” sê Ziv.
Die besproeiingstelsel bestaan hoofsaaklik uit twee of drie drupperlyne wat 1,6 liter/uur lewer, met spasiëring van 300 mm tot 500 mm tussen die druppers. Misstof word saam met die water toegedien.
“Dis ’n hoë besproeiingskoers waarmee ons sowat 10 mm per dag toedien.”
Weens swak grond en die meer se water wat weens die droogte al hoe souteriger raak, stoei piesangboere met die soutgehalte in die grond. Ná verskeie proewe het hulle agtergekom die beste uitweg is om meer te besproei as wat evapotranspireer.
“Dis effe beter onder die nette. Ons het die afgelope drie jaar proewe gedoen om te kyk of ons die loging kan verminder, want dit stel te hoë eise aan die boere en die omgewing waar water skaars is.”
Nette teen wind
Albei produksiestreke kry pak van wind. Teen die Mediterreense kus kom die wind van die weste en by die See van Galilea uit die ooste.
“Danksy die netstrukture het die temperatuur gedaal, die windprobleme het afgeneem en humiditeit het ’n bietjie toegeneem. In die algemeen het die piesangs ’n treetjie nader gekom aan waar dit eintlik behoort, die trope. Dit het ’n verbetering in gehalte meegebring en waterverbruik selfs verder verminder, tot sowat 1 500 mm per hektaar per seisoen.”
Die netstrukture maak ook opleistelsels oorbodig, want die trosse en blomme (wat gesamentlik tot 70 kg kan weeg) word aan die netstruktuur se kabels vasgebind.
Skep geleenthede vir eie piesangs
Dis onwettig om piesangs na Israel in te voer en boere is dus afhanklik van ’n geslote, plaaslike mark.
“Hoewel die opbrengs sowat 60-70 t/ha (gemiddeld oor tien jaar) is, is ons piesangs baie kleiner weens die klimaat, water en grondtoestande. Die geslote stelsel bied ’n goeie buffer aan die Israeliese boere sodat mededingers, wat groter piesangs lewer, nie hul mark kan steel nie. Piesangboere se inkomste word slegs bepaal deur die opbrengs en gehalte van piesangs in die Israeliese mark, want die boere mag ook nie uitvoer nie.”
Lucille Botha van Landbouweekblad is tans op besoek aan Israel. Die reis word deels moontlik gemaak deur Netafim.