
Dié organisasie sonder winsbejag sal SA Wine NPC heet en vier van die huidige ses wynbedryfsliggame onder een sambreel saamvoeg. Dit sal produsente, die wynhandel en die brandewynbedryf verteenwoordig.
Sawis (die Suid-Afrikaanse wynbedryfsinligtingstelsels) en Wosa, wat verantwoordelik is vir die bemarking van Suid-Afrikaanse wyn in die buiteland, sal weens kontraktuele verpligtinge met die regering “nie in die middel wees nie, maar deur kontrakte styf teenaan die SA Wine” werk.
“Ek is baie opgewonde oor die nuwe entiteit,” het mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, tydens dié organisasie se 17de jaarlikse inligtingsdag in Kaapstad gesê.
“Ons het die struktuur met die regering getoets, asook voorspraak gemaak by arbeid, produsente en finansiers en dit blyk dat daar tevredenheid en konsensus is dat hierdie die regte pad vorentoe is.”
Verandering
Volgens Basson wil hulle die manier waarop die liggame bedryf word, verander.
“Die ses liggame word gefinansier met heffings van sowat R124 miljoen per jaar, maar ons het ’n analise gedoen en moeilike vrae gevra oor elkeen se relevansie.”
Hy sê die organisasies – Winetech, Salba (die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkeienaarsvereniging), Sawit (die Suid-Afrikaanse wynbedryfstransformasie-eenheid) en Vinpro, doen almal goeie werk, maar die samewerking skiet te kort. Hulle het besef om groei, ontwikkeling en vernuwing te bewerkstellig, moet die organisasies doeltreffender te werk gaan.
“Ons sukkel tans met verantwoordbaarheid, uitkomste, om ’n enkele stem te wees asook aansoeke vir finansiering. Dis net ’n paar van die kwessies weens die manier waarop ons bestaan,” meen Basson.
Mnr. Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, sê die fragmentasie lei tot ondoeltreffenheid in die bedryf.
“Dis nodig dat die wynbedryf as een stem herrys, met ’n enkele punt vir aanspreeklikheid en strategie, met ’n hernieude klem op mensontwikkeling, sake-intelligensie, vernuwing en kennisoordrag.”
Basson het beklemtoon hul oogmerk met SA Wine NPC is om spoed en behendigheid te verbeter, asook die benutting van hul hulpbronne.
Verskeie van Vinpro se dienste sal na SA Wine toe skuif. Die proses om ’n uitvoerende hoof vir SA Wine NPC te werf, sal vroeg volgende week (23 Januarie) begin.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.