’n Nuwe multimiljoenrand-wingerdprojek wat die Universiteit Stellenbosch saam met Vinpro en ander borge aangepak het, is ’n belangrike bousteen in die wynbedryf se heropbouproses ná die Covid-19-pandemie dit byna platgeslaan het.
Dit is seker die mees historiese wingerde wat onlangs aangeplant is, sê mnr. Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se Gen Z-projek, oor die tegnologies gevorderde en volhoubare opleidings-en-navorsingswingerde wat die afgelope jaar op die Welgevallen-proefplaas van die Universiteit Stellenbosch (US) gevestig is.
“Ons het 4,5 ha van die belangrikste wingerd in Suid-Afrika hier gevestig. As ek net dink hoeveel mense nog hier gaan leer, voorspel ek dat hierdie wingerd vorentoe ’n groot impak op die wyn- en tafeldruifbedryf gaan hê.”