Talle nuwe skorsie- en pampoenkultivars het die afgelope tyd hul opwagting gemaak. Dit is nie net die voorkoms wat deurgaans verbeter nie, ook aspekte soos siektebestandheid, opbrengs en houvermoë, wat vir boere van groot belang is, verbeter met rasse skrede.
'n Groot saadmaatskappy het sy nuutste kultivars vir hierdie deel van die groentemark in sy tegniese sentrum naby Johannesburg ten toon gestel. Dit was gou duidelik die nuwerwetse pampoene en skorsies word nie net gekweek om mooi te lyk nie, want gehalte speel deurgaans 'n oorheersende rol.
Pampoene en skorsies behoort tot die plantfamilie Curcurbitacae, wat spanspekke, waatlemoene, kalbasse en komkommers insluit. Daar bestaan soms groot naamsverwarring oor die verskillende Cucurbita-soorte.
As na skorsies verwys word, is daar hoofsaaklik twee soorte wat in Suid-Afrika van ekonomiese belang is. Cucurbita pepo sluit die bekende murgpampoentjie en lemoenpampoentjie in.
Die ander soort, Cucurbita moschata, het ook twee belangrike groepe: Die bekende botterskorsie en die Caledon-pampoen, of beter bekend as die Ceylon-pampoen. Hierdie pampoene word hoofsaaklik in die Wes-Kaap verbou en die naam Ceylon-pampoen spruit voort uit die krygsgevangenes wat op die eiland Ceylon in ballingskap was.
Die Cucurbita pepo-soorte word onderverdeel op grond van hul groeiwyse. Die bossoort, soos die murgpampoentjie, dra sy vrug aan die stam en die groep wat rank, soos die bekende lemoenpampoentjie, dra sy vrug aan die rank.
In die botaniese wêreld word die bossoorte ook op grond van hul vrugkleur in vier groepe verdeel. Eerstens is daar die groen kultivars, soos Baraket tot donkergroen kultivars soos Midnight Express, Raven en Black Jack. Dan is daar geelgroen soorte met ligte strepe en vlekkies waarvan die kultivar Caserta 'n voorbeeld is. Daar is ook geel soorte, soos Goldy en Goldfinger, en wit tot roomkleur, soos die Long White Bush en die nuwe Mayan (eksperimenteel).
Hierdie hele groep groei bosagtig en vorm 'n enkele, kort stam.
Volgens MayFord is die lengte van die internodes, die rangskikking van die blare en die voorkoms van stekels belangrike oorwegings in die keuse van geskikte kultivars.
Lang internodes en min blare vergemaklik die oesproses. Die afwesigheid van stekels voorkom beskadiging (krapmerkies) aan die vrugte en verhoog die gehalte. Vrugte word in 'n vroeë stadium gepluk. Vla-murgpampoene ("patty pans") val ook in dié groep.
Weens die gewildheid van hierdie soort skorsies is daar gereeld nuwe kultivars. Die nuutste ontwikkeling is die onbeperkte groeiers wat ontwikkel is vir tonnel- en skadunetverbouing waar plante opgelei word.
Die enkelstam vorm lang internodes met taamlik min blare wat die oesproses vergemaklik. Windskade word ook beperk omdat vrugte onder beskerming verbou word. As onbeperkte groeiers is goeie opbrengste moontlik, veral as gereeld geoes word om nuwe vrugvorming te stimuleer.
Tans word klem gelê op die ontwikkeling van virusbestande kultivars. Dié ontwikkeling is van groot ekonomiese belang vir die produksie van skorsies.
Die ranksoorte het ook twee belangrike groepe, naamlik die alombekende lemoenpampoentjie en ook tafel- of sierskorsies. Lemoenpampoentjies is ekonomies die belangrikste en die vraag daarna neem toe.
Verbruikers dring aan op gehalte en verkies pampoentjies met 'n donkergroen kleur en ferm skil wat nie te hard is nie. As pampoentjies begin verkleur, word die geel deur verbruikers geassosieer met veroudering, 'n harde skil en draderige vleis.
Smarag en Gemini is twee kultivars wat geneties ontwikkel is om vir 'n lang tyd donkergroen te bly, terwyl die skil ook ferm bly sonder om te verhard. Die telers het daarin geslaag om 'n heerlike, neutagtige smaak in die aantreklike, ligte geel vleis vas te lê.
Albei is uiters geskik vir die produksie van babagroente.
Smarag is 'n ranker, terwyl Gemini 'n bossoort is wat die voordeel van 'n hoër plantestand (sowat 12 000 tot 15 000 plante per hektaar) en opbrengs inhou.
Tafelskorsies, soos die Table Queen- en Table King-kultivars, verteenwoordig 'n klein deel van die skorsiemark. Weens die bekendstelling van nuwe kultivars met uitstekende vleis en smaak, tesame met verbruikers se behoefte aan nuwe soorte, behoort hierdie mark vinnig te groei.
In Suid-Afrika is botterskorsies ekonomies die belangrikste en hul gewildheid neem toe. Dit kan toegeskryf word aan die taamlik maklike produksie van die gewas en die uitstekende houvermoë van die vrug.
Sowat 'n jaar gelede het die maatskappy 'n nuwe kultivar, Barbara, bekend gestel. Dié nuweling, met sy kenmerkende groen strepe, raak al hoe meer gesog weens sy uitstekende vleisgehalte, puik smaak en die groot hoeveelheid beta-karoteen wat dit bevat. As babagroente is die gehalte só goed dat dit as 'n standaarduitvoerkultivar aanvaar word.
Vir die produsent is dit belangrik dat Barbara goeie weerstand bied teen poeieragtige meeldou, 'n algemene probleem met die verbouing van botterskorsies. Die gesonder plante lewer hoër opbrengste.
Met die nuwe groot botterskorsies, soos Atlas (nog eksperimenteel in Suid-Afrika), kry verbruikers en verwerkers nie net beter waarde vir hul geld nie, maar, soos in die geval van Barbara, ook beter vleis, smaak, raklewe en hoër beta-karoteen.
MayFord glo dat die dae van die bekende pampoen getel is. Die maatskappy is oortuig die nuwe kultivars is soveel meer verbruikersvriendelik vanweë die beter smaak en gesondheidswaardes, dat dit net 'n kwessie van tyd is voor die die gewildheid daarvan met rasse skrede sal toeneem.
25 Oktober 2002