“Innovasie is ’n deurlopende proses. Ons moet voortdurend kyk na nuwe maniere om mededingend te bly,” het mnr. Marno van der Westhuizen, bestuurder van navorsingstoepassing by Hortgro Science, gesê toe hy Hortgro se konsepboordprojek op ’n mediadag in die Paarl bekend gestel het.
“Dit demonstreer innoverende en lewensvatbare boordstelsels wat die eenvormigheid, doeltreffendheid en uiteindelik ook winsgewendheid van boorde verhoog.” Kern- en steenvrugte word dié keer ingesluit, asook alle produksiegebiede. Idees op kort en lang termyn of veranderinge sal geëvalueer word.
Die konsepboordprojek lê klem op vyf aspekte: boordstelsels, waterbestuur, boordvloerbestuur, marktoegang, en ergonomie en ekonomie.