'n Olyfboerdery het die laaste klompie jare byna 'n mode-aktiwiteit geraak. Nie net is Suid-Afrikaners se smaakkliere geprikkel deur die olie van dié antieke vruggie nie; dokters en ander gesondheidsghoeroe's benadruk ook gereeld die voordele van olyfolie - een van die belangrikste bestanddele van 'n Mediterreense dieet.
Dit is dus geen wonder olywe word deesdae skynbaar oral verbou nie. Selfs in die hartjie van die Karoo, in die omgewing van Beaufort-Wes, is daar minstens drie olyfprodusente.
Mnr. Ian Taylor en sy vrou, Sonia, het hul olyfplaas, Olivegrove, in 'n voorslag-gasteplaas omgeskep. Nie net bied die toeriste 'n gawe inkomste nie, maar hulle is ook 'n goeie afsetpunt vir olyfprodukte, van olie tot smeer, blatjang en selfs konfyt.
Die Taylors is eintlik beesboere van Vryheid in KwaZulu-Natal. Hulle het meer as vier jaar gelede Karoo (tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn) toe getrek nadat hulle keelvol vir grondeise en plaasaanvalle geraak het.
"Ons het op die Karoo besluit vanweë die veiligheid en omdat hier nie grondeise is nie," sê Taylor.
Hulle het sowat 7 000 olyfbome op 18 ha op die plaas. Dit is hoofsaaklik die kultivars Mission en Frantoio. Mission is een van die gewildste kultivars in Suid-Afrika vanweë die boom se aanpasbaarheid by 'n verskeidenheid omstandighede. Die vruggies kan vir eet en olie benut word.
Frantoio, aan die ander kant, is net geskik vir olie. Die vrugte weeg ongeveer 3,5 g elk en bestaan uit 14% tot 20% olie. Olyfolie met 'n Frantoio-basis is van die beste gehalte en het 'n sterk peperige smaak wanneer vars.
In die 1970's het die produksie en winsgewendheid van olywe vir eet dié van olywe vir olie verbygesteek. Dié situasie geld steeds in Suid-Afrika.
Volgens mnr. Andries Rabe, voorsitter van SA Olive, hoef olywe uit die Karoo nie terug te staan vir olywe uit die res van die land nie. "Dit is puik. Olywe uit die Karoo lewer baie goeie olie."
Rabe sê dit is veral danksy die kalk- en kalsiumryke Karoogrond.
Met 'n goeie olyfoes haal 'n produsent sowat 63 ton olywe van 3 500 bome af, sê Taylor. Hy besproei uit boorgate en teen die verwagting in vra olyfbome verbasend baie water. Hy gee soms meer as 300 liter water per boom per week.
Dit is weliswaar nie nodig om die bome dikwels te bespuit nie, want tot 'n groot mate is dit siektebestand, maar Taylor is op sy hoede vir olyfkewers en sal hierdie plaag bestry.
Olywe wat vir olie geoes word, moet so gou moontlik ná pluk gepars word. Dit word in tenke geberg en moet vir ses weke sedimenteer voor dit gefiltreer en uiteindelik gebottelleer word.
Groen tafelolywe word in bytsoda behandel om die kleur te behou en bitterheid uit te trek. Daarna word dit omtrent vyf maande in 'n soutoplossing van 8 % tot 10 % geberg voor dit gebotteleer word.
Swart tafelolywe word met water afgespoel en agt maande tot twaalf maande in 'n soutoplossing geweek. Eers as die bitter smaak uit is, word die olywe geprosesseer.
"Dit is belangrik dat die soutoplossing nie onder 8% daal nie, want dit hou ongewenste bakterieë uit," sê Taylor.
Hy sou graag heeltemal organies wou boer, maar dit is nie altyd prakties nie. Waar hy egter kan, doen hy dit.
"Sodra my bome gesond en by sertifiseringstadium is, kan ons dit oorweeg," sê hy.
Taylor snoei die bome net ná pluktyd (wat van middel Maart tot Julie duur). Tydens die groeifase moet die boor-inhoud fyn dopgehou en behandel word waar nodig.
'n Olyfboom is die plant-ekwivalent van 'n volstruis: Eiewys, hardkoppig en met 'n wil van sy eie. Só gebeur dit ook soms dat 'n olyfboom "besluit" om sekere jare nie vrugte te dra nie. Dit gebeur dikwels ná 'n besonder goeie oes dat die bome 'n seisoen langverlof neem om te rus. Hoewel dit minder by ouer bome voorkom, word kruisbestuiwers aanbeveel om te voorkom dat bome nie vrugte dra nie.
As kundige melkboer moes Taylor heelwat leer oor sy nuwe produk, waarvan hy voorheen niks geweet het nie. Dít was ook een van die hoogste hekkies om oor te seil. Die leerkurwe is soveel steiler omdat "daar nie baie eenstemmigheid in die olyfbedryf is nie". Hy is dus tot 'n groot mate aangewese op "probeer en fouteer" en meen korrekte inligting is 'n reuse-uitdaging.
'n Studiegroep waar kennis en raad uitgeruil word, is 'n goeie oplossing daarvoor, meen hy.
'n Ander terugslag op sy olyfpad was buite Taylor se beheer. 'n Haelstorm in 2005 het groot skade aangerig en dienooreenkomstig die sak geraak.
Nie net moes hy inspring en leer oor die kweek van olywe nie, hy moes ook moue oprol toe dit by olie-pars kom.
Taylor het 'n Oliomio 50-parsmasjien van vlekvrye staal wat uit Italië kom. Hierdie masjien kan sowat 50 kg olywe per uur verwerk. Dit lewer tussen sewe liter en tien liter olie.
Olivegrove se olyfolie spog met 'n suurinhoud van minder as 1 % en daarom word dit as ekstra-suiwer geklassifiseer. Die Karoo-grond is vanweë die groot hoeveelheid kalk in die water besonder alkalies en dit tel beslis in die Taylors se guns.
Ekstra-suiwer olyfolie is uniek deurdat dit die enigste plantaardige olie is wat in die natuurlike vorm, sonder enige verwerking, verbruik kan word.
"Ons doen 'n bietjie van alles met die produk," sê Taylor. Hulle verskaf in groot maat aan verwerkers, produseer hul eie konfyt, blatjang en olie (onder die Midaz-handelsmerk) en sal in die toekoms ook skoonheidsprodukte oorweeg.
"Dit is moontlik om heelwat waarde tot die produk toe te voeg," meen Taylor.
Vir verwerkte olie wat in groot maat verkoop word, verdien 'n boer sowat R40 per liter. As hy dit egter self bottelleer en verkoop, kan hy tot R90 per liter daarvoor kry.
Om die olywe aan verwerkers te verkoop, bring 'n boer R2,50/kg tot R5/kg in die sak.
Olywe van eetgehalte kan vir R8/kgtot R15/kg aan verwerkers verkoop word, maar as die boer self 'n mark kan afpen, is R40/kg tot R100/kg nie vergesog nie.
Vanweë die geur- en gesondheidsvoordele neem die gewildheid van tafelolywe en olyfolie wêreldwyd toe. Die aanplanting van olywe het die afgelope dekade só drasties toegeneem dat daar eersdaags slegs ruimte vir uitbreiding sal wees as die plaaslike mark ontwikkel en vergroot word, waarsku SA Olive se webwerf. Geleenthede in die uitvoermark sal ook ondersoek en benut moet word.
Rabe sê 2007 het die grootste olyfoes nóg in Suid-Afrika opgelewer. Hy beskou die bedryf as "ongelooflik gesond".
Volgens Taylor groei die mark jaarliks met bykans 20%. "Die boer kan so twee jaar lank aan voorraad vasklou, mits hy die kapitaal daarvoor het.
"Die grootste en moeilikste uitdaging is die bemarking van die produk tot jou beste voordeel. As jy voorraad het, en die kapitaal daarvoor, is die moontlikhede ontsaglik groot."
Landbouweekblad, 26 Oktober 2007