AFGRI
BEAN
30 Mrt
-
9822
48,00
CORN
30 Mrt
-
4145
-6,00
SOYA
30 Mrt
-
8640
-25,00
SUNS
30 Mrt
-
8780
-39,00
WEAT
30 Mrt
-
6695
16,00
WMAZ
30 Mrt
-
3846
-5,00
YMAZ
30 Mrt
-
4021
-6,00
Deel

Organies verboude mango's

Europeërs kon die afgelope seisoen die eerste keer smul aan organies verboude mango's uit Suid-Afrika. Die vraag kan egter gevra word of die pryse wat behaal word, vergoed vir al die spesiale bestuursmaatreëls wat produsente moet tref.

Die eerste organies verboude mango's uit Suid-Afrika is deur die Europese markte ontvang en daarmee het die plaaslike bedryf waarskynlik vir hom 'n nu-we nismark geskep wat in die toekoms ver-der uitgebou kan word.

Vir die oningeligte mag die organiese verbouing van produkte na 'n goedkoper en makliker alternatief vir konvensionele boerderymetodes klink. Dit is ongelukkig nie só eenvoudig en só maklik nie, sê van die produsente wat die afgelope seisoen hul organies verboude mango's uitgevoer het.

Dié baanbrekers moes die afgelope paar jaar baie vinnig leer en daar is steeds talle vraagtekens oor baie aspekte van dié verbouingspraktyke. Uiteraard was die gehalte van die eerste uitgevoerde organies verboude mango's nie heeltemal van dieselfde standaard as dié van die konvensioneel verboude mango's wat uitgevoer is nie.

Die Europese Unie (EU) stel 'n hele reeks vereistes aan produsente wat hul organies verboude produkte na EU-markte wil uitvoer. Dít behels onder meer dat 'n boord wat vir organiese verbouing geoormerk is, duidelik geïdentifiseer en gemerk moet word. Voordat die vrugte as "organiese" produkte na EU-lande uitgevoer mag word, mag chemiese middels vir ten minste drie jaar nie in sulke boorde gebruik word nie.

Gedurende die laaste twee jaar van dié oorgangstydperk kan die vrugte as "organies-in-oorgang"-vrugte ("organic in transition") bemark word. Organiese boorde moet deur 'n erkende instansie goedgekeur en gesertifiseer word, en twee inspeksies moet elke jaar gedoen word.

Die Hans Merensky-Groep (Westfalia) het die afgelope seisoen hul eerste ten volle gesertifiseerde organies verboude mango's uitgevoer, terwyl die Bavaria Landgoed naby Hoedspruit in die Noordelike Provinsie sy eerste "organies-in-oorgang"-mango's geoes het. Dié twee landgoedere was dus die eerste plaaslike produsente wat organies verboude mango's ingevolge die EU se vereistes uitgevoer het.

Hoewel verwag is dat pryse vir organies verboude mango's hoër sal wees, was dit nie die afgelope seisoen die geval nie. Die uitgawes verbonde aan die totstandkoming van 'n organiese mangoboerdery is in dié stadium só hoog dat veel hoër markpryse nodig is om dit 'n winsgewende praktyk te maak.

Vir hierdie nuwe bedryf is bitter min organiese middels getoets en geregistreer, wat daartoe lei dat die mangoprodusent sélf produkte moet opspoor en uittoets, en soms selfs moet help met die ontwikkelingswerk en registrasie.

Dr. Danielle le Lagadec is onder meer verantwoordelik vir die navorsing oor die organiese verbouing van mango's op 'n gedeelte van die Hans Merensky-Groep se Mariepskop Landgoed naby Hoedspruit.

Volgens hom het dié groep 'n paar jaar gelede begin met die organiese mangoverbouingsprojek op die plaas Moriah. Dié plaas se ligging was geskik vir die organiese verbouingsprojek omdat dit aan die groter Mariepskop Landgoed grens, maar tog 'n afsonderlike deel daarvan beslaan. Een van die voorwaardes vir organiese verbouing is onder meer dat die boorde duidelik onderskei en afgesonder moet wees van ander boorde waar konvensionele verbouings-praktyke gevolg word.

Omdat dit so 'n nuwe, onbekende en boonop riskante projek is, is aanvanklik met net een hektaar begin, wat mettertyd uitgebrei is.

Aanvanklik het dit baie goed gegaan met die bome op die eerste hektaar wat na organiese verbouing oorgeskakel is. Dit was omdat die bome in daardie stadium steeds omring was deur konvensionele boorde, waarin insek- en siektebestryding toegepas is.

Dr. Le Lagadec sê die kultivars Keitt, Kent, Heidi en Sensation word organies verbou. Die afgelope seisoen kon slegs vrugte wat ten volle organies verbou is, uitgevoer word. Die res van die boorde is eers sowat 18 maande gelede as "organies" geregistreer en dit sal dus eers oor 'n verdere 18 maande as "ten volle organies" gesertifiseer kan word.

Die organiese produksie van mango's het enkele aanpassings in die produksieproses van die boerdery geverg. Die konvensionele drupbesproeiingstelsel is met 'n mikrobesproeiingstelsel vervang. Dit is gedoen omdat organiese misstof gebruik word wat in die grond ingespoel moet word, in plaas van die vloeibare kunsmis wat vir konvensionele mangoverbouing gebruik word.

Bekostigbare misstof wat aan hul doel beantwoord, moet nog gevind word. Geen geskikte, vloeibare organiese misstof is tans beskikbaar nie en organiese misstof is duur. "Hoewel die huidige opbrengs bevredigend is, weet ons nie wat oor 'n jaar of twee gaan gebeur nie, want 'n mangoboom kan vir vyf of ses jaar heeltemal goed sonder kunsmis presteer voordat dit ernstige fisiologiese probleme ervaar," sê dr. Le Lagadec.

Die spesifieke grond op Moriah, waarop mango's vir jare onder konvensionele praktyke verbou is, het terselfdertyd ook 'n groot behoefte aan organiese materiaal. Proewe met die maak van kompos word tans met onder meer saagsels, kraalmis en mangoreste uit 'n drogingseenheid gedoen. Dié proewe word saam met die Bavaria Landgoed gedoen. Toe kompos in een van die boorde ingewerk is, het 'n nuwe probleem sy kop uitgesteek: Termiete.

Dít, sê dr. Le Lagadec, is 'n tipiese voorbeeld van hoe 'n poging om een probleem op te los soms tot 'n heeltemal nuwe probleem lei. En boonop mag die termiete ook nie met 'n chemiese middel in die organiese boord bestry word nie.

Onkruidbestryding word bemoeilik omdat geen chemiese plantdoders in die organiese boorde gebruik mag word nie. Vir doeltreffende boordsanitasie is dit noodsaaklik dat die onkruid en gras, veral op die riwwe, kort gehou word sodat vrugte wat op die grond beland, maklik raakgesien en verwyder kan word.

Verskillende metodes word tans op die proef gestel, soos om swael en olie saam te spuit. Dié kombinasie was egter nie volgens die EU-riglyne toelaatbaar nie. Proewe is ook gedoen met 'n ingevoerde stoomma-sjien en 'n vlammasjien. Weens die beperkte grootte en vermoë van hierdie toerusting was dit onprakties. Intussen moet arbeiders kapmesse en bossieslaners gebruik om die onkruid in bedwang te hou.

Die boerdery soek ook nog na geskikte grondbedekkers wat die beste sal vaar met organiese verbouingsmetodes, want die kaal riwwe weerkaats sonlig, wat sonbrand op die vrugte verhoog.

Dr. Le Lagadec sê waar konvensioneel en organies verboude mango's in dieselfde pakhuis gehanteer word, moet spesifieke voorsorgmaatreëls getref word. Die hele hanteringslyn moet deeglik skoongemaak word voordat die organiese mango's daarop beweeg.

Hoewel 'n afsonderlike paklyn vir organies verboude mango's nie 'n EU-vereiste is nie, is dit 'n baie praktiese reëling binne 'n pakhuis wat konvensioneel én organies verboude vrugte hanteer. Anders as die chemiese swamdoderbad waarin konvensioneel verboude mango's gedompel word en die chemiese waslaag waarmee dit uiteindelik bedek word, word organies verboude mango's met borsels in warm water geskrop en met 'n organiese middel, Biocoat, bedek. Die middel is as 'n geskikte organiese vrugbedekker geregistreer, en die registrasieproses daarvan as 'n swamdoder is tans aan die gang. "Ons is tevrede met die vordering wat ons maak, en die organiese verbouing van mango's op dié plaas het gekom om te bly. Ons is besig om hier 'n nuwe ekostelsel te skep in 'n poging om 'n balans in die natuur te bewerkstellig," sê dr. Le Lagadec.

Bestry insekte en siektes

Die bestryding van insekte en siektes in 'n organies verboude mangoboord kan 'n groot probleem word as dit nie voortdurend aandag kry en reg bestuur word nie.

Dr. Danielle le Lagadec sê in die natuur werk dit nou maar eenmaal só dat insekte altyd 'n boom teister wat onder stres verkeer. In die organies verboude boorde mag lokvalle met lokmiddels vir insekte gebruik word, maar geen sintetiese chemikalieë mag gebruik word nie. Verskeie soorte lokvalle met verskillende omgewingsvriendelike lokmiddels word wel uitgetoets.

Die vrugtevlieg en die snuitkewer is fitosanitêre plae en albei is moeilik om selfs met chemiese middels te bestry. Vir die bestryding van die snuitkewer in organiese boorde moet 'n stelselbenadering gevolg word, waar gereelde inspeksies lei tot bestryding tydens die eierlêstadium.

Vrugte met tekens van sulke insekskade word gereeld uit die boorde verwyder. Dit is tans die enigste vorm van bestryding wat toegepas word. As die bestryding van vrugtevlieë en veral snuitkewers by organiese verbouing agterweë gelaat word, kan dit baie gou weer die mangobedryf se grootste probleem word.

Dopluise, veral die mangodopluis, is 'n groot probleem vir alle mangoprodusente, en dus soveel te meer vir die produsent wat sy mango's organies verbou. Minerale olies vir dopluisbestryding kan nog tot die einde van vanjaar gebruik word en daarna sal plantolies die werk moet doen. Dit is egter nog nooit vir gebruik teen insekte getoets nie.

Die toename van die dopluisprobleem die afgelope drie jaar kan moontlik voor die deur van die intensiewe bestryding van blaaspootjies - wat die dopluis se natuurlike vyand is - gelê word. Dit het waarskynlik ook meegebring dat die palm-, die skild- en die sagtedopluis nou ook in groter getalle in mangoboorde voorkom.

Danksy baanbrekerswerk deur onder andere dr. Mieke Daneel, entomoloog van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse op Nelspruit (LNR-ITSG), is die Cybocephalus-kewer, 'n natuurlike vyand van die mangodopluis, 'n paar jaar gelede van Thailand na Suid-Afrika gebring. Hier is dit geëvalueer, vermeerder en in mangoboorde gevestig.

Vandag spog die plaas Moriah met sy eie volwaardige insektarium waar elke jaar sowat 250 000 van dié kewertjies geteel word. Binne-in die insektarium word die temperatuur en humiditeit gereguleer en botterskorsies word met mango-dopluise besmet waarop die predatoriese kewertjies floreer en dwarsdeur die jaar aanteel.

Elke maand vanaf September tot Februarie - wanneer die mangodopluis-druk hoogty vier - word sowat 30 000 van hierdie kewertjies "geoes" en in die organiese mangoboorde vrygelaat as die mangodopluisbevolking te hoog raak. "Die hoofdoel met ons eie insektarium is eenvoudig om voldoende predatore beskikbaar te hê vir vrylating wanneer ons dit nodig het," sê dr. Le Lagadec.

Ongelukkig beteken die organiese verbouing van mango's nie dat die druk van plantsiektes verlaag word nie. Inteendeel, al die normale mangosiektes moet steeds bestry word, maar met 'n kleiner spektrum middels as wat vir konvensionele verbouing gebruik word.

Die EU-vereistes vir organiese verbouing het geen probleem met swael wat vir poeieragtige meeldou gespuit word nie, en selfs koperoksiechloried word toegelaat, maar teen aansienlik laer volumes as wat in konvensionele verbouingstoestande gespuit word. Daar is sprake daarvan dat die EU strenger maatreëls teen of selfs 'n verbod op die gebruik van koper kan instel.

In die lig hiervan is dit baie belangrik dat dooie hout en dooie blompluime direk ná die oestyd verwyder word. Dit is ook 'n goeie praktyk om dooie hout en dooie blare deur die seisoen uit organiese boorde te verwyder omdat dit in die meeste gevalle eerste deur siektes besmet word en die siektes daarvandaan verder versprei.

Volhoubaar, maar nie

maanskyn en rosegeur nie

"As verby al die emosionele aspekte van organiese verbouing gekyk word, bly daar baie positiewe elemente oor. Dit gaan hier oor die volhoubaarheid van die natuurlike hulpbronne deur afvalprodukte te gebruik, verbrakking te bekamp en die gehalte van die ondergrondse waters te verbeter.

"Ek glo dit is 'n meer verantwoordelike manier van boer. Maar dit help ook nie jy produseer jou vrugte organies en jy speel bankrot nie," sê mnr. Johann du Preez, hoofbestuurder van die Bavaria Landgoed naby Hoedspruit.

Dié boerdery het ook sowat twee jaar gelede 'n gedeelte van sy mango-aanplantings as organiese boorde geregistreer, wat beteken dat dié landgoed die afgelope seisoen sy eerste "organiese mango's-in-oorgang" na Europese markte kon stuur.

Mnr. Du Preez sê organiese verbouing verg 'n nuwe benadering wat die boer as't ware dwing om meer innoverend te dink. Daar is beslis 'n nismark met groot moontlikhede vir organies verboude produkte. Met die toepassing van die EU se beginsels vir goeie landboupraktyke (GAP) en die basiese beginsels wat vir geïntegreerde plaagbestryding (GPB) geld, vind 'n verskuiwing in die rigting van organiese verbouing reeds plaas.

Die organiese verbouing van mango's is beslis nie net maanskyn en rosegeur nie. Die boer kry miskien wel 'n premieprys vir 60 % van sy organies verboude vrugte in die buiteland, maar vir die ander 40 % van sy oes kry hy 'n swakker prys op die plaaslike mark weens die letsels wat organies verboude vrugte kenmerk.

Die plaaslike bemarking van organies verboude vrugte verdien nog aandag en met só 'n poging sal die koperspubliek behoorlik ingelig moet word.

'n Verdere knelpunt in dié stadium is dat die boere wat mango's organies verbou, tans uit 'n klein besigheidsgroep bestaan. Dit bring mee dat maatskappye half huiwerig is om bestaande organiese middels op mango's uit te toets en ook huiwerig is om nuwe middels vir só 'n beperkte mark te ontwikkel, sê mnr. Du Preez.

Weens gehalteprobleme het die verwagte pryspremies nie werklik gerealiseer nie. Hoewel daar in die goeie moontlikhede vir organies verboude mango's geglo word, is daar steeds tegniese uitdagings wat oorbrug moet word. 'n Hoë vlak van tegnologie word vereis om die organiese verbouing van mango's suksesvol te handhaaf. Die tegniese spanne van die Bavaria Landgoed en die Hans Merensky-Groep het voorwaar hierdie uitdaging aanvaar. 6 September 2002

Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.
Teken in
heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Smalls

Besoek ons nuwe webwerf vir geklassifiseerde advertensies en plaas jou advertensie in LBW én aanlyn. Vind ook vinnig en maklik die produk waarna jy soek!

Sien meer
Rand - Dollar
17.82
+1.6%
Rand - Pond
22.07
+1.0%
Rand - Euro
19.43
+1.0%
Rand - Aus dollar
11.96
+1.2%
Rand - Jen
0.13
+1.4%
Platinum
986.00
+1.8%
Palladium
1,457.22
+0.6%
Goud
1,980.94
+0.9%
Silwer
23.90
+2.5%
Brent-ruolie
78.28
-0.5%
Top-40
71,089
+0.3%
Alle aandele
76,705
+0.3%
Hulpbronne 10
67,517
+1.3%
Industriële 25
103,222
-0.1%
Finansiële 15
15,634
+0.1%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Besoek ons winkel!

Besoek die LBW-winkel en koop verskillende produkte soos boeke, tydskrifte, klere en meer.

Besoek LBW-winkel
Opsitkers
Spontaan en lief vir kamp en road trips
Ek is wie ek is. Ek is n maklike persoon om mee oor die weg te kom. Hou baie van kos maak en braai. Ja en ons sal baie dinge saam doen en veral lag.
Liefte is n wenner!
Hou van nuwe plekke sien dinge saam doen, saam lag en net memories maak ek wil settle en is ernstig daaroor.
Vind jou perfekte maat nou!
Ek is 'n:
Op soek na:
Ouderdomsgroep: tot