
’n Nuwe Suid-Afrikaanse rekord vir reuse-pampoene is deur mnr. Henry du Plessis van Worcester opgestel.
Du Plessis was die wenner van die 2012 Shoprite Checkers Groot Pampoen-kompetisie wat Saterdag (17 Maart 2012) in Brackenfell gehou is.
’n Enorme pampoen van 390 kg het vir Du Plessis ’n maklike oorwinning sowel as prysgeld van R10 000 verseker teen 20 ander pampoenkwekers wat om die titel as die Groot Pampoen-kampioen meegeding het.
Mnr. Drikus Kleinhans van Sasolburg was die vorige rekordhouer. Hy het aan die 2008 Shoprite Checkers Groot Pampoen-kompetisie deelgeneem. Du Plessis het Kleinhans se rekord van 379,5 kg met 10,5 kg oortref.
Gewilde kompetisies
Kompetisies vir pampoenkwekers is wêreldwyd baie gewild, en die rekord vir die grootste pampoen nóg staan tans op ’n allemintige 821 kg. Dié wêreldrekord is in Amerika aangeteken.
Freshmark, die Shoprite Groep se vars groente en vrugte verkrygingsarm, bied jaarliks aan Suid-Afrikaanse pampoenboere die geleentheid om met dié kompetisie hul kuns te wys.
Pampoenkwekers het verlede Augustus grootpampoensade by Freshmark gekry om vir vanjaar se kompetisie te kon inskryf. Pampoene gekweek van enige saad mag ingeskryf word, maar Freshmark se saad word as besonders beskryf omdat dit afkomstig is van die Noord-Amerikaanse Atlantic Giant-kultivar, wat nie geneties gemodifiseer is nie.
19 Maart 2012