'n Paprika-projek deur die Matjhabeng-raad in die Vrystaat het meegebring dat werklose mense van Welkom, wat die slagoffers van afdanking in die mynbedryf was, nou al ver opgelei is as nuwe boere en gevorder het op die pad om kommersiële boere te word.
Onder nette tussen die mynhope van die Vrystaatse Goudveld leer jong werkloses, van wie almal matriek geslaag het, die fynere kunsies van die verbouing van paprika sodat hulle uiteindelik op hul eie voete kan staan. Die eerste oes paprika is onlangs afgehaal.
Die Almeria-projek van die Matjhabeng-raad is die eerste van 'n aantal wat beoog word vir die produksie van alternatiewe gewasse en die toepassing van alternatiewe boerderymetodes wat skaars waterbronne en stedelike gronde gebruik. Volgens plan sal die projekte uiteindelik aan honderde opkomende boere werk verskaf.
Die paprikaprojek bestaan tans uit vier nethuise wat op 1 ha opgerig is, besproeiingstelsels, 'n besproeiingsdam en 'n beheerkamer wat die pompstelsel huisves. Die doelwit is om uiteindelik 19 blokke van 16 nethuise met 'n ten volle gerekenariseerde besproeiingstelsel vir elke blok te hê waar die nuwe boere wat opgelei word, elkeen eie nethuise sal hê om te versorg.
Die projek het tot dusver R1,3 miljoen gekos. Die geld daarvoor is van die Departement van Provinsiale en Plaaslike Owerheidsake se plaaslike ekonomiese ontwikkelingsfonds. Die volgende fase, waarin vir elk van die 24 huidige voornemende boere 'n eie nethuis voorsien sal word, sal nog R11,5 miljoen kos.
Mnr. Fanie Nieuwoudt, bestuurder van projekte by die departement ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning, sê die doel van die projek is om werklose mense op te lei om onafhanklike boere te word. Die vereiste is dat hulle jonger as 30 moet wees en nog nie voorheen opleiding ontvang het nie. Die projek is deel van die Matjhabeng-raad se ontwikkelingsgerigtheid om self projekte tot voordeel van opkomende boere en entrepreneurs daar te stel.
Die mense word by die Goudveldse Kollege vir Voortgesette Onderwys en Opleiding opgelei. 'n Volledige kursus in die verbouing van paprika word onder leiding van me. Sonja Coertzen ontwikkel. Dit sluit teoretiese klasse en praktiese ervaring in die nethuise in. In die tweede fase van die projek sal die studente ook opleiding in finansies en bestuur ontvang.
Sy sê die jong boere ontvang van Maandag tot Donderdag lesings en doen praktiese werk in die nethuise. Vrydae gaan hulle na kommersiële boere vir verdere praktiese opleiding.
Coertzen bestuur die projek. Die paprika is in rye op walletjies geplant wat met plastiek bedek is vir onkruidbestryding en om vog te bewaar. Oplosbare korrelkunsmis word met drupbesproeiing toegedien. Die vog word daagliks op twee verskillende dieptes 300 mm en 400 mm met vogmeters gemeet en die besproeiing daarvolgens aangepas. Die voedingstowwe in die grond word ook daagliks gemeet en aangepas.
'n Voorkomende spuitprogram word gevolg vir alle moontlike plae. Wanneer die plae toeneem, word die spuitprogram daarvolgens aangepas. Die water word deur filters gesuiwer.
Aanvanklik is van die paprika buite die nethuise geplant, maar die gehalte van die paprika is baie beter, die opbrengs in die nethuis is drie maal hoër as buite en plaagbestryding is makliker.
Die paprika word aan El Clarin, 'n Spaanse paprika-verwerkingsaanleg in Murcia, Spanje, verskaf. Dié maatskappy, wat van die begin af by die projek betrokke is, het 'n depot vir die ontvangs van die produk in 'n ongebruikte mynkombuis in Welkom geopen. 'n Verwerkingsaanleg word ook in Matjhabeng beoog en sal in die 2004/05-seisoen opgerig word.
Mnr. Derek Nicol, verteenwoordiger van El Clarin, sê die Almeria-projek lewer paprika van 'n goeie gehalte. 'n Gelykspeelpunt van 2,5 t/ha vir buiteproduksie behoort bereik te word in die eerste seisoen. Produksie in die nethuise word op 15 t/ha tot 20 t/ha geskat. Die produksiesyfer sal in die toekoms noodwendig verhoog moet word namate ervaring toeneem en ander kultivars geplant word. Altesame 98 % van die Suid-Afrikaanse paprika word uitgevoer. Die voordeel daarvan is dat betaling in 'n ander geldeenheid geskied.
Die maatskappy sal alle paprika koop van alle grade wat geproduseer word, op voorwaarde dat die voggehalte reg is. Die verwagte prys vir die verskillende grade is R9/kg vir die beste graad, R6,50/kg vir graad B en R3/kg vir graad C. Altesame 80 % van die produkte se gehalte is graad A.
'n Woordvoerder van Matjhabeng sê ná baie foute en 'n lang leerproses is die projek nou lewensvatbaar. Van die grootste probleme, soos alge wat die drupperlyne verstop het, is opgelos.
Kundiges van die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein het gehelp met die beplanning van die projek deur 'n volledige studie van die omgewing, grondontledings en die opstel van 'n waterplan. 'n Kommersiële boer, mnr. Tjaart van der Walt, is aangestel as mentor vir die nuwe boere.
Die Matjhabeng-raad is vol vertroue dat die huidige sukses van dié projek daartoe sal lei dat die uiteindelike doelwit van nuwe kommersiële paprikaboere bereik sal word. Diegene wat meer van die projek wil weet kan Nieuwoudt bel by tel. 057 392 100, of Van der Walt by 082 888 1866.
7 Mei 2004