Hierdie mikroskopies klein wurms teer op die wortels van jong aartappelplante, en in die proses kan oeste ernstig geknou word. Dit is moeilik om van die wurms ontslae te raak omdat hul eiers binne vroulike nematodes oorbly en vir jare in die grond kan agterbly.
Groot hoeveelhede word in siste gelê, wat aan wortels heg. Luidens ’n artikel op die webwerf Science.org vergeel en verwelk besmette aartappelplante se blare. Hulle lewer kleiner aartappels, dikwels met merke op, wat beteken dat dit nie noodwendig as hoëgehalteprodukte verkoop kan word nie.
In gematigde lande kan die aalwurm in bedwang gehou word deur aartappels afwisselend met ander gewasse te plant, die grond met plaagdoder te behandel, of deur meer bestande kultivars te plant.