Die mens kan net só lank teen die natuur stoei. Daarna moet jy handdoek ingooi of saam met die natuur begin werk. Dít was een van die lesse wat ’n rooibosboer van Clanwilliam geleer het toe hy besef hy sou ander planne vir produktiwiteit en hoë insetkoste moes beraam vir sy plaas se hoë ligging, kort groeityd en beperkende grond.
Mnr. Henk Bakker van die plaas Achterfontein sê dit pla hom al van jongs af dat landbougewasse in droogte en teen plae sukkel, maar die veld nie. “Hoe funksioneer die veld langs teelande so goed sonder insette? Veld word nie geploeg, geskoffel, bemes of bespuit nie. Tog is daar geen tekorte nie, siektes is nie ’n probleem nie, dit produseer hoë biomassa en weerstaan droogtes beter as aangrensende teelande.”
Hy het gewonder of die natuurlike veerkragtigheid van veld tot voordeel van sy boerdery nageboots kon word. Voor die insig om dít te doen hom getref het, moes hy baie skoolgeld betaal en rampe oorleef.