
Mnr. Werner Nieuwoudt, nuutverkose voorsitter van dié vereniging, sê die doel van die vereniging is om op te tree as spreekbuis vir produsente en om hul saak in die rooibosteebedryf te stel.
“Ek dink dit is belangrik om te verstaan dat daar in hierdie stadium geen liggaam is waar gemeenskaplike belange van rooibosprodusente aangehoor word nie. Elke produsent is op sy eie. Hulle word tot ’n mate ondersteun deur die verwerkers aan wie hulle tee lewer, maar dit is beperkte ondersteuning tot wat die verwerkers kan bekostig en ook wat hul doelwitte nastreef. Daar is geen organisasie wat ons en ons gemeenskaplike belange verteenwoordig nie.”
Nieuwoudt sê dat die vereniging beide produsente en die mark se belange prioritiseer om volhoubaarheid van die bedryf te waarborg. “Die rooibosraad is ’n raad wat gemik is op die navorsing van die gesondheidsvoordele en die beskermer van die gebruiker van rooibos. Dit konsentreer daarom meer op die mark as die produsente.”
Nieuwoudt sê een van die probleme wat die rooibosbedryf tans beleef, is die gebrek aan tydige en geloofwaardige statistieke en data van bedryfsinligting. Die verskaffing van dié inligting word gedeeltelik gegee deur verwerkers.
Nog ’n probleem is ook die beperkte navorsing en dat navorsing nie gekoördineerd is nie. “Dit is vir ons ’n groot kwessie om die volhoubaarheid van ons plantteelmateriaal en grondgesondheid te verseker waarby klimaatsverandering ook ’n groot rol speel.”
Die raad van die rooibosprodusente-vereniging is saamgestel uit benoemde lede uit 13 streke wat verteenwoordigend van die rooibosbedryf in hul betrokke geografiese ligging. Mnr. JP Theron dien as ondervoorsitter van die vereniging en die dagbestuurslede is mnre. Wian Nieuwoudt, AJ Marais, Sybrand de Beer, Schalk-Willem Laing, Bertie Grobbelaar, Ian Brand, Gys Dippenaar, HW Liebenberg, Pieter Albertyn en Japie Nel.
Die raad was sorgvuldig verkies om te verseker dat slegs sake in belang van die rooibosprodusente bespreek sal word om doeltreffende oplossings vir spesifieke kwessies te kry. “Jy kan slegs in die bestuur wees indien jy nie ’n direkteur is of betrokke is by ’n verwerker nie, wat basies die volgende vlak in die waardeketting is. Jy kan wel ’n lid wees, want baie produsente is ook direkteure by verwerkers, maar daar was ’n sterk gevoel dat ons dit ’n suiwer produsente-organisasie wil hou en derhalwe is die bestuur verkies uit lede of produsente wat nie direk betrokke is by ’n verwerker nie.”
Nieuwoudt het aan Landbou.com gesê dat Agri Wes-Kaap die vereniging finansieel ondersteun en en sy grondwet help opgestel het. “Ons is baie dankbaar vir Agri Wes-Kaap wat ons ondersteun het. Sy kundigheid van die landbousektor is gebruik om die grondwet voor te stel. Die grondwet is ook op verskeie werksessies met boere bespreek. Hul insette is gebruik om die grondwet by te werk sodat dit by ons vergadering goedgekeur kon word.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.