
Rosyntjieproduksie sal na verwagting vanjaar na normale vlakke terugkeer en met 19% tot 85 000 ton in die 2021-’22-produksiejaar styg, sê die Amerikaanse departement van landbou se buitelandse landboudiens (FAS) in ’n verslag.
Die FAS, in samewerking met Rosyne Suid-Afrika, sê die voorspelling word gegrond op normale weerstoestande, ’n toename in die oppervlakte wat met rosyntjiedruiwe beplant is, nuwe boorde wat in volle produksie kom en ’n verbetering in opbrengs danksy nuwe kultivars en produksiepraktyke.
Die gebied onder rosyntjiedruiwe sal luidens die verslag met 3% tot 19 900 ha in die 2021-’22-bemarkingsjaar groei, vergeleke met 19 300 ha in die 2020-’21-produksiejaar. Een van die redes vir die groei is die finansiële oorwegings van wynboere wat gebuk gaan onder ’n relatiewe lae prys vir wyndruiwe en beperkings op die verkoop van alkohol, waaronder wyn, wat deur die regering ingestel is.
Die gebied onder rosyntjiedruiwe het van die 2007-’08- tot die 2021-’22-produksiejaar byna verdubbel. Rosyntjieproduksie het in hierdie tydperk ook amper verdubbel. Beter pryse van rosyne teenoor wyn en ’n groeiende vraag van verwerkers is van die redes vir die groei.
Daar is ’n groeiende neiging om pekanneutboorde in sommige rosyntjieproduksiegebiede in die Noord-Kaap te vestig. Die FAS meen dat dié neiging op lang termyn tot mededinging om grond en watertoewysings in sommige rosyntjieproduksiegebiede kan lei.
Uitvoer
Luidens die verslag kan Suid-Afrikaanse se uitvoer van rosyne in die 2021-’22-bemarkingsjaar met 4% tot 72 000 ton styg, vergeleke met die 69 000 ton wat in die afgelope bemarkingsjaar uitgevoer is.
In die 2020-’21-bemarkingsjaar is uitvoer deur verskepingsvertragings gekniehalter. Die tekort aan en vertragings met die beskikbaarheid van vraghouers word reg oor die wêreld ervaar, grootliks weens die uitwerking van covid-19.