
’n Internasionale navorsingsprojek is onlangs van stapel gestuur om Suid-Afrika se rooibosmark uit te brei, sê die Suid-Afrikaanse Rooibosraad.
Luidens ’n verklaring is dié raad die plaaslike leier van die navorsing, en staan hy in ’n vennootskap met die Internasionale Handelsentrum en die Nederlandse regering se sentrum vir die verbetering van invoere vanaf ontwikkelende lande.
Sowat 6 000 ton van die rooibostee wat tans jaarliks geproduseer word, word na Duitsland uitgevoer. Dit het afgeneem nadat die uitvoer in 2008 ’n hoogtepunt van meer as 7 000 ton bereik het. Sowat 12 000 ton rooibos word tans in die land geproduseer.
Produksie is nie ’n probleem
Die raad meen nie dat produksie uitvoer striem nie, want die land het genoeg kapasiteit om produksie te verhoog mits die vraag toeneem.
Nóg ’n faktor wat in ag geneem word, is die feit dat die waarde van uitgevoerde tee op ’n jaargrondslag, tussen 2005 en 2009, met 26% toegeneem het. Sowat 90% van dié rooibostee is wel in groot maat uitgevoer met min waardetoevoeging.
Die bedryf verskaf sowat 4 500 werksgeleenthede en is veral belangrik vir die distrik Cederberg waar die tee verbou word. Die raad sê die Regering het dié feit erken en een van sy sleuteldoelwitte is om die uitvoer van rooibos te verbeter sodat dié werksgeleenthede behoue sal bly en selfs meer sal word.
Ontleed Duitsland se gebruik
’n Aanvanklike projek van ses maande lank sal onderneem word om, byvoorbeeld, ’n diepgaande ontleding van die Duitse rooibosmark te doen en geleenthede te identifiseer.
Dit sal ook fokus op die potensiaal van regstreekse handel met Duitsland waar markte wat rooibostee tans heruitvoer ter sprake is.
Hierdie aanvanklike fase is die inleidende fase van die projek en sou dit bemoedigende resultate lewer, sal ’n tweede fase oor die plasing van rooibos binne internasionale markte volg.
Mnr. Martin Berg, voorsitter van die raad, sê die projek sal hulle help om die bedryf en sy uitvoerpotensiaal beter te verstaan. “Om die groei wat ons oor die afgelope 12 jaar bewerkstellig het te behou moet ons voortdurend die plaaslike mark ontleed en nuwe maniere vind om uitvoer te verbeter.”
13 September 2011