
’n Amerikaanse vrugtesapprodusent, Venture Coastal LLC, het ’n teenstortingsaansoek vir suurlemoensap uit Suid-Afrika en Brasilië ingedien.
Die aansoek is net voor die einde van 2021 by die internasionale handelskommissie, die Amerikaanse weergawe van Itac in Suid-Afrika, ingedien.
In sy aansoek vra die maatskappy vir ’n teenstortingstarief van 128,61 % vir Suid-Afrikaanse suurlemoensap en 555,22% vir Brasilië.
Volgens mnr. Donald MacKay, ’n internasionale handelsraadgewer en direkteur van XA Internasionaal, het die uitvoer van Suid-Afrikaanse suurlemoensap van 2018 tot 2021 met 61% toegeneem en sal ’n tarief ’n pynlike slag wees.
MacKay benadruk dat die Amerikaanse mark die grootste bestemming is vir Suid-Afrikaanse suurlemoensap. Suid-Afrika is naas Brasilië die grootste uitvoerder van suurlemoensap na Amerika. Hy voeg by dat dit nie maklik sal wees om ’n vervanger te vind vir die nagenoeg R165 miljoen se suurlemoensap wat Amerika uit Suid-Afrika invoer.
Volgens mnr. Hannes de Waal, voorsitter van die Venco-sapfabriek in Kirkwood in die Oos-Kaap, wat ook in die aansoekdokument genoem is, was die aansoek enersyds ’n verrassing, maar is dit nie heeltemal onverwags vanuit ’n Amerikaanse oord nie. De Waal sê hulle het geen formele kennisgewing oor die aansoek ontvang nie, maar via die media daarvan te hore gekom.
Sy maatskappy en sy kliënte ondersoek die aansoek, wat tans nog ’n nuutjie is vir die bedryf. Een van die huidige kwessies is dat dit moeilik is om ’n professionele opinie in te win van Suid-Afrikaners wat in die veld spesialiseer, aangesien dit nog vakansietyd is. Een van Venco se aandeelhouers, die Argentynse maatskappy San Miguel, konsulteer namens die maatskappy met dieselfde prokureurs wat betrokke was in Argentinië se stryd teen Amerikaanse teenstortingstariewe.
AGOA
Suid-Afrikaanse suurlemoensap word ingevolge die Agoa-ooreenkoms tariefvry na Amerika uitgevoer, terwyl gewone tariewe 3,4 sent per liter beloop.
“Indien die tarief ingestel word, kan dit ons uitsluit uit Amerika. Dit kan ook lei tot verdere teenstortingsgevalle in ander lande. Ek meen die probleem is nie onbenullig nie,” sê MacKay.
De Waal sê Amerika is nog nie ’n groot mark vir Venco nie, maar dit word ’n baie belangrike mark, veral met die groei in produksie wat die sitrusbedryf ervaar.
“Die mark het 300 miljoen verbruikers. Ons het ’n baie goeie produk en wil graag in daardie mark wees en elke ander mark ter wêreld waarin ons kan wees.”
MacKay sê dit is moeilik om te sê of daar waarheid steek in die aantygings in die aansoek, omdat nog met produsente saamgewerk moet word om dit te bereken.
Die rand het in die afgelope paar jaar aansienlik in waarde afgeneem. “Dit kan maklik wees dat die toename in invoer kan wees weens die verswakking van die geldeenheid en nie weens storting nie. Van die Suid-Afrikaanse kant is die belangrikste taak om produsente betrokke te kry by die proses. Indien hulle nie deelneem nie, sal ons by verstek verloor en dit het verskeie uitkringgevolge.”
Geskrewe voorleggings moet voor 25 Januarie ingedien word. Gaan na https://bit.ly/3fcce5T vir nog inligting oor die proses. Produsente met navrae kan MacKay kontak by donald@xa.co.za of +27 84 494 1019.