
Kanonkop- en Jordan-wynlandgoedere is onderskeidelik as die beste rooi- en witwynprodusente op die Internasionale Wyn- en spiritualieëkompetisie (IWSC) in London aangewys.
Sowat 12 000 wyne van regoor die wêreld word jaarliks deur hul passies gesit deur die IWSC se strawwe beoordelingsproses.
Kanonkop het tien medaljes vir sy rooiwyne ingeoes, en só beter gevaar as die top-wynplase van onder meer Frankryk, Italië, Spanje, Amerika en Australië. Volgens die IWSC se webtuiste het Jordan se Barrel Fermented Chardonnay en Nine Yards Chardonnay, beide uit die 2020-oesjaar, die beoordelaars “verbyster”.
Mnr. Gary en mev. Kathy Jordan van Jordan-wynlandgoed sê die IWSC se produsentetrofeë is een van die grootste toekennings wat produsente te beurt kan val. Om dit in te palm, moet produsente koning kraai in wynkategorieë waar hulle met duisende ander produsente meeding.
“Drome en doelwitte kan behaal word”
Mnr. Johann Krige, mede-eienaar van Kanonkop, sê Kanonkop is al sedert 1973, toe die eerste wyn op die landgoed gebottel is, verbind tot gehalte wat aan internasionale standaarde voldoen.
“Om erken te word as die beste rooiwynprodusent by hierdie weergalose wynkompetisie bewys dat doelwitte en drome behaal kan word,” het Krige gesê vanuit London, waar hy die IWSC-trofee ontvang het.
Hy hoop dié toekenning hou ook voordeel in vir Suid-Afrika se status as wynprodusent. Suid-Afrikaanse wyne het die afgelope drie dekades met rasse skrede verbeter en daar was algehele vernuwing in die bedryf, maar steeds sukkel die land om as premium-produsent in die internasionale mark beskou te word en skaflike pryse vir wyn te behaal.
“Hierdie toekenning aan ’n Suid-Afrikaanse wynkelder sal hopelik eens en vir altyd die wêreld laat besef dat ons land se wyne onder die heel bestes tel wat regoor die aardbol gemaak word… Vir baie oorsese verbruikers is ons nog ’n ‘cheap-and-cheerful’-wynland. Met erkennings vir die gehalte van Suid-Afrikaanse wyne, soos nou by die IWSC, kan Kanonkop en ons mede-Kaapse wynkelders wys dat die land se wyne kan saampraat met die grootste wynlande op aarde,” meen Krige.
Die Jordans sê 2020 was ’n oesjaar wat met onsekerheid en teëspoed gepaard gegaan het weens covid-19.
“Hierdie toekenning verhef en gee erkenning, nie net vir die Jordan-wynlandgoed nie, maar ook vir die hele Suid-Afrikaanse wynbedryf.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.