Dit word allerweë aanvaar dat die sagtevrugtebedryf die laaste vyf jaar deur 'n moeilike tyd gegaan het. Die werklikheid is egter dat die bedryf inderwaarheid reeds langer as tien jaar in 'n proses van deregulering is.
Noudat die bedryfstrukture en ekonomiese situasie begin stabiliseer het, is die volgende logiese stap die bemagtiging van mense op produksievlak en in die waardeketting self.
Só sê mnr. Anton Rabe, hoof uitvoerende beampte van die Sagtevrugte-produsentetrust. Hy glo die meeste mense in die sagtevrugtebedryf het reeds in 1992 begin om anders te dink en hulself daarvolgens in nuwe strukture en ekonomiese posisies te plaas vir die toekoms.
Die uitdaging is nou dié van bemagtiging en die finale hervorming in die bedryf. Die volgende vyf jaar sal deurslaggewend vir oorlewing op die duur wees, want dit sal bepaal waar die sagtevrugtebedryf, die landbou en selfs die land as 'n geheel hom oor 10 of 20 jaar sal bevind, meen mnr. Rabe.
Boere se denkwyse het veral in die laaste vyf jaar dramaties verander. Vyf jaar gelede was 'n boer se eerste reaksie as van hervorming en bemagtiging gepraat word: "Jy vat nie aan my grond nie!"
Vandag het die sagtevrugtebedryf 'n raad van trustees wat gemeenskaplike sake namens sy primêre produsenteverenigings kan hanteer (kern-, steenvrugte en tafeldruiwe) wat eenparig die uitdaging van bemagtiging aanvaar, en gereed is om die proses sinvol deur te voer. Mense begin gemaklik raak met dié denkrigting en voel hulle wíl betrokke raak by bemagtiging en nie meer hulle móét betrokke raak nie.
"En dít kan die verskil beteken tussen welslae en mislukking," glo mnr. Rabe.
Want met ál die veranderinge van toetrede tot die vryemarkstelsel, internasionale bemarking en transformasie, het bemagtiging ietwat agterweë gebly.
Hoewel talle inisiatiewe die lig gesien het, het die bedryf as geheel bemagtiging nog nie gekoördineerd aangepak nie. 'n Bedryfsproses moet derhalwe nou aan die gang gekry word, want dit is nie 'n taak wat deur enkelinge aangepak kan word nie. Dit is nou nodig dat 'n "kultuurverandering" as 't ware deurgevoer word om aan die eise van die tyd te voldoen.
'n Paar ankers moet nou uitgesit word. Die era om regstellende aksie tot elke prys deur te voer, is nou verby; nou is dit tyd vir die ekonomiese en volhoubare bemagtiging van mense wat 'n verskil moet maak. Dit is egter opvallend hoe dié term vir verskillende mense verskillende betekenisse het. Sommige sien dit as om 'n deel van sy grond prys te gee, ander sien dit as opleiding. Dít is egter deel van die uitdaging, naamlik om "mense dieselfde taal te laat praat".
Foute is in die laaste jare gemaak en skoolgeld is betaal. Dalk was dit egter 'n bedekte seën, en kan baie van dié foute in die bemagtigingsaksie vermy word. Mnr. Rabe sê voorraad word nou opgeneem, waarna 'n aksieplan en strategie in plek gestel sal word met uitdagende teikens en doelwitte van wat binne 'n jaar, vyf jaar, tien jaar en selfs langer bereik wil word. "Dan wil ons hê die Regering moet deel van die verantwoordelikheid aanvaar," sê hy. Die Regering moet die uitdagings saam met die bedryf aanvaar, dit ondersteun en saam die pad loop om teikendoelwitte te behaal - nie net nasionaal nie, maar ook provinsiaal. 1 November 2002