
Mnr. Herman Bester, sakereddingspraktisyn, sê vier private beleggers stel daarin belang om in die rooibosteeverwerkings- en verpakkingsaanleg waarin die Noord-Kaapse provinsiale regering die enigste aandeelhouer is, te belê.
Die maatskappy is in sakeredding geplaas nadat plaaslike rooibosprodusente nie vir lewering van tee aan die aanleg betaal kon word nie. Intussen het die Noord-Kaapse provinsiale regering en ander baie werk gedoen om dit weer volhoubaar te maak.
Bester sê die sakeplan wil werkskepping, transformasie en opheffing met die samewerking van die provinsiale regering verseker.
“Die oogmerk met die reddingsaksie was altyd om die regering te ondersteun om ’n suksesvolle omdraai van die besigheid te bewerkstellig, ten goede van alle betrokkenes deur bereiking van die doelwitte wat die regering vir homself hierdeur gestel het.”
Mnr. Malcolm Baard, waarnemende hoofbestuurder, sê daar is ’n opgewondenheid op die dorp, veral nou dat verkope toeneem. “Met amper 40 mense heeltyds in diens is dit die dorp se grootste werkverskaffer. Die moontlikheid dat nog 60 mense, wat nou tydelik werk, heeltyds aangestel kan word, skep ’n atmosfeer van hoop.”