Deur spesiaal ontwerpte plastieksakkies om druiwetrosse te bind, word voëlskade aan die trosse heeltemal uitgeskakel. Boonop het heelwat ander voordele ook na vore gekom, waaronder 'n aansienlike verhoging in produktiwiteit deurdat uitvoerdruiwe tot vyf keer vinniger gepak kon word.
Dit neem 'n pakker dikwels tot 15 minute om 'n tros uitvoerdruiwe gereed te kry en in 'n kartoondoos te pak vir die oorsese markte. Die meeste van dié tyd word gebruik om korrels uit te knip wat deur voëls (en dikwels ook insekte) beskadig is.
Spesiale plastieksakkies (voedselgraad), wat oor twee jaar ontwikkel en gepatenteer is, is nou beskikbaar. Dit is 'n baie gespesialiseerde sakkie wat maklik om trosse gebind kan word, onder oop is sodat aan die tros gewerk kan word en geperforeer is sodat lug ongehinderd deurvloei.
Die sakkie is die afgelope jaar by verskeie tafeldruifboere getoets.
Mnr. Johan Naudé, bekende wingerdboer in die Hexriviervallei en naaswenner van die Hexvallei-wingerdblokkompetisie (jong blokke), sê voëls rig jaarliks geweldige skade aan trosse aan wanneer die korrels begin verkleur en ryp word. Dikwels bly baie min van 'n groot druiwetros oor nadat die beskadigde korrels uitgehaal is.
Allerlei planne is al gemaak om mossies en vinke, die twee grootste sondaars, uit wingerde te verwilder, maar die probleem is dat die voëls gou gewoond raak aan voëlverskrikkers of knalle.
Gewoonlik loop die wingerdrye aan die kante van blokke en dié wat aan paaie grens die ergste deur.
Weens die erns van die probleem was hy bereid om enigiets te probeer, en daarom het hy nie gehuiwer toe dié nuwe produk onder sy aandag gekom het nie.
Hy het die afgelope seisoen 100 000 van dié sakke, bekend as Agrigard, gekry en oral om trosse laat bind waar voëlskade gewoonlik die meeste voorkom. Waar skade aan sommige trosse dikwels feitlik die hele tros gekos het, is skade onmiddellik met 100 % verminder aan trosse wat toegebind was.
Die sakkies is om die trosse gebind net nadat teen wolluis gespuit is en die korrels al 2 % tot 5 % verkleur het.
In 2002 is 10 980 kissies oor 'n periode van 14 dae verpak van 'n blok Alphons van 2,15 ha met 22 trosse per stok. Hierdie seisoen is die blok teruggesny na 18 trosse per stok weens die ouderdom van die stokke, en ná gebruik van die sakkies, is 10 260 kissies verpak in drie dae.
Dit beteken hy het 14,2 % meer druiwe van dieselfde blok geoes en 78 % minder tyd daarvoor gebruik.
Ook in die Benede-Oranjeriviergebied is die sakkies met groot welslae getoets, onder andere by mnr. Felix Visser van Tray SA Trust en Johan de Kock by Marchand. Dit is ook in ander wingerde in die Rooipad- en Blouputs-gebiede getoets, en die resultate stem ooreen met die van mnr. Johan Naudé.
Mnr. André Greyling, wat die sakkies in die Hexriviervallei bemark, sê hulle is in pakke van 500 beskikbaar, met 'n band wat om 'n werker se nek pas. Die werker loop in die wingerd en skeur die sak op 'n geperforeerde lyn af, wat twee "tongetjies" aan die sak laat waarmee dit oor die tros vasgebind word.
Dit pas mooi om 'n gemiddelde tros en is onder oop, wat werk aan die tros vergemaklik. Dit word opgelig en nadat die werk gedoen is, word dit laat sak. Klein gaatjies laat lugbeweging toe.
Mnr. Greyling sê behalwe die beskerming wat die sakkies teen voëlskade bied, het 'n magdom ander voordele ook na vore gekom namate dit getoets en verbeter is. Daaronder is:
Dit verhoog produksie in pluktyd. Die trosse word met sakkie en al gepluk en na die verpakkingsaanleg vervoer. Minder korrels gaan so verlore en die natuurlike waslagie op die korrels word min versteur.
'n Groot voordeel is die verhoging van produksie omdat die werkers nie beskadigde korrels hoef uit te sny nie. Gewoonlik duur dit gemiddeld een tot twee weke op mnr. Naudé se plaas om 'n blok se oes markgereed te kry en te verpak. Nadat hy die sakkies begin gebruik het, word die werk binne twee en 'n halwe dag afgehandel - hoofsaaklik omdat die tydrowende uitknipwerk aan trosse grootliks uitgesny is. Druiwe kom dus gouer op die mark.
Die sakkies is van deursigtige plastiek wat die gewone hoeveelheid lig deurlaat. Dit belemmer dus ook glad nie inspeksies van die trosse nie.
Min reën dring deur die perforasies in die sak. Dit skakel vrot korrels uit. Voorts keer dit stof - as die wingerd naby 'n pad geleë is of as stowwerige winde waai - grootliks van die trosse self af.
Die sakkies kan hergebruik word, byvoorbeeld met verskillende kultivars in dieselfde seisoen. Of dit kan, as dit nie verniel word nie, tot ses keer gebruik word oor verskillende seisoene.
Volgens 'n verslag van die LNR se Infruitec-Nietvoorbij-Instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn, waar die sakkies deur dr. Jan Loubser, assistent-direkteur: Tafel- en Droogdruiwe, getoets is, kan groter korrels verkry word deur die sakkies te gebruik. Dit is bevind dat die gemiddelde korrelgrootte 9,10 g by Sunred Seedless was in 'n kontroleblok, teenoor die gemiddeld van 9,40 g waar die sakke getoets is.
Die sakke is liggewig en kostedoeltreffend - 27c per sakkie. As 'n sakkie ses keer gebruik word, beloop die koste 4c per tros. Dit bind maklik aan 'n tros sonder ekstra gereedskap. Dit is in verskillende groottes beskikbaar.
Die sakkies is herwinbaar - die geskeurde en beskadigde sakke word teen markverwante pryse teruggekoop deur die vervaardigingsmaatskappy.
Mnr. Jannie Vermeulen, produksiebestuurder op Naudesia, sê die koms van die sakke het die produktiwiteit van werkers verhoog. Daar is nie minder werkers nodig nie, maar hulle werk nou net vinniger en doeltreffender. Veral die feit dat geen uitknipwerk van voëlskade of vrot korrels nodig is nie, verhoog produktiwiteit vyf tot ses keer.
Mnr. Jan Breda, hoof-toesighouerhouer op die plaas, sê die sakke werk baie beter as die kartonkappies wat voorheen gebruik is. Met die kappies is steeds voëlskade ervaar, hoewel minder - maar die probleem was dat dié kappies in die wingerd afgehaal is voordat die trosse gepluk is, en dikwels het daarvan in die wingerd agtergebly.
7 Maart 2003