
Chadwick sê die SKV weet steeds net van een sitrusboer wat sy “beesgraad”-suurlemoene en -lemoene in ’n veld buite die Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap weggegooi het. Hy sê dit is normaal vir sitruskwekers om vrugte weg te gooi as dit nie vir menslike verbruik geskik is nie, veral in gebiede waar dit vir voer gebruik kan word.
Chadwick het in Augustus vanjaar aan Landbou.com gesê gegewe die huidige omstandighede, veral wat hoë insetkoste en handelsbeperkings betref, sou dit nie vreemd wees vir boere om daardie roete te volg nie.
Volgens hom het sitruskwekers landwyd een van die moeilikste uitvoerseisoene nog met verskeie faktore wat vanjaar ’n impak op die bedryf se volhoubaarheid en winsgewendheid het. Kwekers by Kirkwood en Addo sal dus waarskynlik onder groot druk met hul bedrywighede moet voortgaan.
“Sitruskwekers reg oor die land word in die gesig gestaar deur hoër produksiekoste, ’n aansienlike styging in insetkoste en ’n afname in reële uitvoerpryse, wat waarskynlik vir die volgende paar jaar sal voortduur. Hierdie omstandighede word vererger deur die groot ekonomiese beperkings in ons land, onder meer voortdurende fiskale druk, voortgesette en erger beurtkrag, ’n hoë werkloosheidskoers en lae vlakke van verbruiker- en sakevertroue.”
Hard getref
Hy sê die SKV se maatskappy vir die ontwikkeling van kwekers werk nou met die regering saam aan inisiatiewe vir grondhervorming om die nodige steun aan onder meer opkomende kwekers te voorsien. Hierdie maatskappy bied nuttige steun aan ontwikkelende kwekers in Suid-Afrika deur toegang tot finansiering, tegniese en sakesteun, hulp met die verkryging van titelaktes en waterlisensies, infrastruktuur en die kommersialisering van hul produkte.
“Die stygende insetkoste en voortslepende beurtkrag het hierdie kleinboere die hardste getref, met baie wat moontlik hul ondernemings sal moet sluit.”
Hy sê dié swart sitruskwekers word ook veral geraak deur die Europese Unie (EU) se nuwe sitrusmaatreëls rondom verpligte kouebehandeling. “Dit is baie duur om hierdie maatreëls toe te pas en kan hierdie boere uit die EU-mark dwing. As ons ons ontluikende boere se deure wil oop hou, asook broodnodige werkskepping in landelike gebiede bewerkstellig, sal hul toegang tot uitvoermarkte ’n prioriteit moet bly.”