Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (SKVSA) se Sitrusakademie het 'n skenking van R175 000 van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) ontvang. Dié hupstoot is bedoel om die ontwikkeling van leiers in die sitrusbedryf aan te help.
Die skenking is onder die vaandel van NOK se strategiese bedryfseenheid vir die voedsel-, drank- en landboubedryf en eksterne departement vir opleiding gemaak. Mnr. Rian Coetzee van die NOK sê "in 2007 het die NOK en Landboubesigheidskamer 'n opname onder toonaangewende agribesighede en landbou-eenhede gehou om die huidige status van die landboubedryf se uitdagings rakende agri-SEB vas te stel. Een van die uitdagings is om opgeleide voorheen benadeelde bestuurders te vind en te behou".
Hy meen die skenking sal voorheen benadeelde studente, wat deur die Sitrusakademie se beurs geborg word, blootstelling aan die bedryf gee. Die akademie speel 'n noemenswaardige rol in die ontwikkeling van vaardighede in die sitrusbedryf deur, onder meer, opleidingsmateriaal te verskaf, nuwelingboere te help met beplanning en die beurs te bestuur.
Coetzee het ook genoem dat die NOK die grootste aandeelhouer in die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf is en beleggings van sowat R200 miljoen daarin het. Meeste van die beleggings is in SEB-maatskappye.
9 September 2008