
Vanjaar sal die plaaslike sitrusbedryf hopelik toegang tot die Viëtnamese mark verkry, en veranderinge aanbring aan die uitvoerprotokol na Amerika en Japan, asook voorwaardes vir toegang tot Indië, sê mnr. Justin Chadwick, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV).
Volgens die SKV se syfers het dié bedryf verlede jaar 161,6 miljoen kartonhouers sitrus uitgevoer. Dit is 18,6 miljoen meer as in 2020. Chadwick sê hulle sal teen einde Maart ’n beter idee hê van hoe groot vanjaar se oes sal wees.
Hy dui egter reeds aan dat logistiek, soos probleme by die hawens, ’n voortdurende probleem sal wees wat uitvoer na enige mark betref. “Groot uitvoervolumes plaas uitvoerterminale onder druk. Die verskepingsbedryf het nog nie genormaliseer nie en hawens wêreldwyd ervaar opeenhopings en agterstande. Dit het ’n impak op verskepingsgeleenthede en beskikbare toerusting.”
Die feit dat Florida, Amerika se grootste lemoenproduserende deelstaat, volgens Modernfarmer.com tans weens Asiatiese vergroening sy laagste produksie in 77 jaar beleef, sal volgens Chadwick nie noemenswaardige geleenthede vir die plaaslike sitrusbedryf skep nie.
“Amerika en Suid-Afrika is in teenoorgestelde seisoene. Ons ding daarom vir die grootste gedeelte van ons seisoen nie met Amerika mee nie. Ons ding wel ’n bietjie op die marges van ons seisoen mee. ’n Kleiner Amerikaanse oes kan dan minder mededinging beteken.”