
Altesame 59 sitrusboere in die Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap het ’n lening van sowat R2,8 miljoen wat oor 25 jaar aan die Land Bank afbetaal moes word, binne die bestek van vyf jaar ten volle gedelg.
Dié vennootskap word as een van die suksesvolste swart bemagtigingsplase in die land beskou. Mnr. Jeffrey Rossouw (37), assistent-plaasbestuurder en een van die direkteure van die Luthando Plaaswerkerstrust, het aan Landbouweekblad gesê mnr. Hermanus Potgieter het in 2003 besluit om sy plaas Brandwag, by Kirkwood, teen R5,8 miljoen aan sy werkers te verkoop.
Op die plaas van 130 hektaar is sowat 90 hektaar onder sitrus gevestig. Potgieter het ’n aandeel van 25 % in die plaas behou en 70 van die werkers kon deur middel van toekennings van R20 000 elk van die destydse Departement van Grondsake ’n deel van die koopsom betaal. Die res van die geld is by die bank geleen.
Mnr. Philip du Plessis, besturende direkteur van Luthando, sê die sukses van die onderneming is te danke aan die goeie spanwerk op die plaas. Luthando is ook deur Fairtrade geakkrediteer waardeur die werkers bykomende geld verdien.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 10 Julie 2009.
6 Julie 2009