
Die nuwe regulasies wat die Europese Unie (EU) vir die bekamping van valskodlingsmot op Suid-Afrikaanse sitruskwekers wil afdwing, kan uitvoer na die EU bedreig, waarsku mnr. Deon Joubert, gesant van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging in die EU, in ’n skrywe aan die vereniging se lede.
Hy rig ’n ernstige versoek tot sitruskwekers om voor Donderdag 10 Maart protes aan te teken op die Europese Kommissie se webwerf. Joubert sê belanghebbendes kan hier klik om kommentaar te lewer en protes aan te teken teen die voorgestelde regulasies.
Suid-Afrika is die grootste uitvoerder van sitrus na Europa en vul die Euorpese sitrusbedryf aan omdat oestye nie bots nie. Bekostigbare sitrus van hoë gehalte is dus beskikbaar tydens die Europese somer wat bydra tot die 120 000 werksgeleenthede wat sitrus in Suid-Afrika skep.
Die nuwe wetgewing in Europa stel voor dat uitvoerlande in Afrika sitrus deur die bank vir 16 dae teen tussen 0 °C en 1 °C moet hou as dit vir die EU bestem is.
Joubert sê dit is nie lewensvatbaar nie. Dit sal die gehalte van baie van Suid-Afrika se lemoene belemmer, wat gaan lei tot ’n afname in verbruik en ’n toename in voedselvermorsing.
Uitvoerders en kleinhandelaars sal inkomste verloor.
Dit sal die uitvoer van organiese en chemie-vrye sitrus heeltemal in die wiele ry. Hierdie produkte sal nie die voorgestelde koue behandeling kan trotseer nie en dit sal ’n jammerte wees, sê Joubert, want daar was nog nooit ’n onderskepping vir valskodlingsmot op enige besending organiese of chemie-vrye sitrus nie. Daar is ook ’n groeiende behoefte in Europa aan sitrus wat omgewingsvriendelik verbou is.
Indien dit nie gestuit word nie, kan hierdie wetgewing teen einde Mei 2022 in werking tree wanneer die plaaslike sitrusseisoen begin.
Teken só protes aan
Die eerste stap is om ’n rekening te skep. Begin deur op die skakel “Give feedback” te klik en dan die skakel “Register” te kies. Nadat jy jou kontakbesonderhede verskaf het, sal jy ’n e-pos ontvang om die registrasieproses te voltooi.
Hierna moet jy op jou rekening aanmeld en die opsie “Have your say” kies. “Vertel jou storie,” sê Joubert, “en moenie kopieer en plak nie, want die EU sal duplisering van terugvoer as een stem of protesbrief tel.
“Verduidelik wie jy is en hoe jy betrokke is in die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf en maak spesifiek melding as jy ’n spesifieke belang in organiese of chemie-vrye sitrus het.
“Indien moontlik, verskaf syfers rondom die grootte van jou besigheid en hoeveel vir jou op die spel is.”
Joubert het sy skrywe ook aan invoerders en kleinhandelaars in Europa gerig en vra dat hulle sal sê hoe lank hulle al vrugte uit Suid-Afrika invoer en verhandel, hoe lank hulle al verhoudinge met spesifieke produsente handhaaf en hoeveel verskepings na hulle toe al verwerp moes word. “As dit min of geen verwerpings is, vra hoekom onnodige streng maatreëls op alle sitrus ingestel moet word.
“Verduidelik aan die Europese Kommissie dat hierdie voorstel skadelik en onnodig is omdat daar reeds alternatiewe kouebehandelings in die Suid-Afrika se valskodlingsmot-protokol is.”
Daar moet in die vertoë ook melding gemaak word van die feit dat kouebehandelingsprotokolle wat reeds gebruik word, doeltreffend is sonder om die organiese en chemie-vrye bedryf te ruineer of om enorme koueskade aan spesifieke kultivars te veroorsaak.
Joubert sê ook daar moet meer tyd gegun word wanneer nuwe regulasies en wetgewing ingestel word sodat produsente van uitvoerlande tyd het om te beplan en nuwe protokolle toe te pas.