
Die Britse regering het onlangs aangekondig dat hy die invoer van kommoditeite soos sitrus dereguleer.
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging, sê hy het nog nie amptelike kommunikasie van die Britse regering af ontvang nie, maar dat dit beslis makliker behoort te wees om in die toekoms na Brittanje uit te voer.
“Ons verstaan ook dat die reëls vinniger kan verander noudat Brittanje nie meer aan die EU se prosesse hoef te voldoen nie. Dit kan maande duur om ’n nuwe produsent of boord se vrugte na Europa te stuur omdat eers inspeksies gedoen moet word om te verseker die boord voldoen aan die EU se swartvlekvereistes,” sê Chadwick.
Hy waarsku egter dat die goeie nuus nie net tot Suid-Afrika beperk is nie en verwag strawwe mededinging uit lande soos Argentinië wie se toegang tot die EU opgeskort is nadat verlede jaar meer as 100 Argentynse sitrusbesendings weens swartvlek onderskep is.
Sonder die vereiste fitosanitêre sertifikaat van die EU kan Suid-Afrikaanse produsente nou vinniger reageer op veranderinge in die vraag op die Britse mark. Vrugte wat vir Ierland bestem is, sal vir eers nog aan die EU se fitosanitêre vereistes moet voldoen.
Suid-Afrika het tot nou toe omtrent 9,5% van sy sitrus na Brittanje uitgevoer.
Spaanse koue
Intussen hou Spaanse sitruskwekers hul asems op om te sien hoe erg die skade van die uiterste koue winterweer in hul boorde is. Mnr. Cédric Geens van die Europese vrugte-en-groente-groothandelaar W. Jonckheere het vroeër aan Fresh Plaza gesê die sitrusbedryf sal nie gespaar bly in die ysweer nie.
Chadwick sê dit is nog te vroeg om te sê hoe die uitsonderlik koue winter in Spanje die Europese mark kan beïnvloed. Daar is ’n kort tydperk wanneer laat vrugte uit Spanje met Suid-Afrika se vroeë sitrusuitvoer op die Europese mark meeding. Die koue kan maak dat daar vanjaar vir hierdie kort tydperk minder mededinging is, wat goeie pryse vir Suid-Afrika se vroeë uitvoer kan beteken.