Ons moet vinnig praat, want terwyl ons die besonderhede van ons afspraak bevestig, wag mnr. Hannes Wolvaardt se vlieginstrukteur vir hom. Hy is besig om sy vlieglisensie te verwerf sodat hy in die toekoms vinniger kan reis vir vergaderings met klante en verskaffers.
Dit is dieselfde Hannes Wolvaardt wat 12 jaar gelede met 3 ha huurgrond, ’n studentekar en geleende trekkers en werktuie begin boer het. Hannes, sy broer Riaan en sy skoonsus Joelene het skaars met hul volwasse lewens begin toe hulle ál hul spaargeld bymekaargesit het om Hannes te help om sy boerdery te begin.
Die drie is vandag nog gelyke vennote in die Wolvaardt-boerdery en ook die besigheid se drie vulstasies in die omgewing van Letsitele. Anders as sy twee broers wat BCom gaan studeer het, het Hannes besluit om ná skool ’n nasionale diploma in gemengde landbou aan die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT) te verwerf. Wat hy daarná vermag het, is ’n hoendervelstorie.