
’n Boerseun van Suid-Afrika, mnr. Louis de Kock jnr., het die afgelope paar jaar vir Amazon gewerk waar hy regstreeks betrokke was by die ontwikkeling van Amazon se eerste konsepwinkels wat dié tegnologie gebruik. Hy het sy waarnemings en die lesse wat hy geleer het op die onlangse Fresh Connections-funksie van die Suid-Afrikaanse Produsente-markagentskap (PMA) gedeel.
De Kock sê tot nou het mense sommige van hul inkopies aanlyn gedoen, terwyl hulle ander produkte, meestal vleis en vars produkte, in fisieke winkels gaan koop het.
Omni-kanaal-handel laat kopers ongehinderd tussen hierdie twee kanale koop. Die konsep is maar enkele weke gelede vir die eerste keer bekend gestel, hoewel dit reeds in 2016 ontstaan het toe Amazon sy eerste stap-net-uit-geriefswinkel oopgemaak het.
Hoe werk die winkels?
By só ’n winkel hoef kopers nie by ’n kasregister aan te doen om te betaal nie. Hulle haal eenvoudig wat hulle wil hê van die rak af en stap uit. Die meer as 200 kameras in die winkel en meer as 1 000 sensors op die winkelrakke registreer wat elke koper neem en die data word dan gebruik om die waarde van hul inkopies te bepaal.
Vars produkte sou eers ’n jaar later in Amazon se slimwinkel-visiere opduik toe dié aanlyn reus die Whole Foods Groep gekoop het. Skielik het die maatskappy sy eie varsprodukte-waardeketting gehad en die idee van Amazon Go Groceries is gebore, maar dit sou die maatskappy vier jaar neem om toe te pas en die eerste winkel oop te maak.
De Kock verduidelik die algoritmes vir vars produkte is aansienlik moeiliker om te ontwikkel omdat alle appels, byvoorbeeld, nie ewe groot en ewe swaar is nie. Ander struikelblokke was verbruikers wat enkele piesangs wou koop en dit van piesangtrosse afgebreek het. Die algoritme was opgestel vir ’n spesifieke grootte tros piesangs.
Amazon het net meer as ’n maand gelede sy eerste omni-kanaal-winkel bekend gestel. Hier kan ’n mens fisiek in die winkel inkopies doen en jou mandjie aanvul deur dit wat nie op die rak beskikbaar is nie, aanlyn te koop. Dit word dan in ’n japtrap by die winkel afgelewer.
’n Mens kan jou inkopielys op Google se Alexa opstel en dan in die winkel vir Alexa vra waar is die produkte op die rak. Dit alles werk saam met spesiale trollies en mandjies wat jou inkopies skandeer en oplui die oomblik wat jy dit inlaai. Sodra jy iets in jou trollie plaas, kan jy op jou Amazon-toepassing sien wat jy gekies het en as jy uitstap, word die waarde uit jou gekoppelde rekening onttrek.
As jy nie tyd het om tussen winkelrakke op en af te dwaal om jou trollie vol te maak nie, kan jy aanlyn koop en net jou inkopies by die winkel gaan oplaai. As jy haastig is vir iets spesifieks, kan jy op die toepassing kyk watter winkel jou gekose produk in voorraad het en reguit soontoe gaan.
De Kock sê die winkel is uiters gewild omdat mense verkies om so min as moontlik interaksie met ander te hê in die lig van die Covid-19-pandemie. Dit is dus moeilik om te sê wat die langtermyn-ondersteuningsbasis vir dié konsep onder normale handelsomstandighede sal wees.
“Een ding is verseker,” sê hy. “Omni-kanaal-handel is die toekoms.” Hy voeg by dat vennootskappe en samewerking die sleutel vir hierdie soort handelsplatvorm gaan wees. Amazon het reeds honderde kleinhandelaars reg oor die wêreld genader en hierin kan daar vir Suid-Afrikaanse verskaffers ook ’n geleentheid lê.