Ons hoofgewas is suikerriet, maar ek en my oorlede broer het teen 2004 ook met groente soos soetrissies, eiervrug, bone, pampoen en suikermielies begin boer. Ons gebied is bekend om suikerriet, maar die groente is voordelig vir wisselbou en kontantvloei.
Ons probeer om die uitskot tot die minimum te beperk, daarom verkoop ons eiervrugte wat nie na kleinhandelaars toe gaan nie, aan die varsproduktemark en smouse.
Dit is ’n klein deel van ons aanplantings, maar omdat dit so ’n vrugbare gewas is en goeie oeste lewer as jy dit reg bestuur, hoef jy nie baie te plant om genoeg te produseer nie. Die vraag na eiervrugte is nie so groot in Suid-Afrika nie, daarom plant ons net sowat 3-4 hektaar per jaar, sowat ’n tiende van die soetrissies wat ons verbou.