Perskes hou van ’n Mediterreense klimaat. Dis hoekom daar so baie geelperskes in Griekeland is. Die vrugte wil ’n koue, nat winter hê. Meimaand is belangrik vir ons. As Mei koud is, gaan die bome in rus en is reg vir die volgende seisoen. Ons het ook goeie grond langs die Kogmansrivier wat oor ons plaas loop. Die meeste van die perskeboorde is daar.
Histories het ons kultivars geplant om in die fabriek se behoeftes te voorsien, maar die ouer kultivars raak ál minder. Tans boer ons met kultivars soos Zandvliet, Keisies, Fantasy, Cascade, Supreme en Golden Pride. Almal kom van die Kakamas-perske af, waarvan ons nog een blok het, hoewel dit nie so goed by ons aard nie.
Dit lyk na ’n goeie oes, veral die gehalte. As ons ’n taamlik droë somer het, lyk die gehalte van die meeste gewasse altyd mooi. Dis wel ’n vroeë seisoen – tot twee weke vroeër.