Rissies is my vrou, Hannelie, se stokperdjie. Sy versamel rissiesade en -plante van oral oor en ruil dit met ander rissieliefhebbers uit. Ons het tans saad van 93 verskillende kultivars, en plante van meer as 40 soorte. Daarby het ons blatjang, konfyt, souse en piekels begin maak wat ons op markte verkoop. Ons het ook gereelde klante wat regstreeks by ons koop.
As mense na rissies kyk, sien hulle net “brand”! Maar dis nie al wat rissies is nie. Dit bevat baie vitamien C en skei endorfiene af, soortgelyk aan dit wat lag en oefen aan die liggaam doen. Rissies is eintlik baie gesond en bied ’n klomp voordele.
Ons het die warmste en tweede warmste rissies ter wêreld, naamlik Carolina Reaper en Trinidad Scorpion, in ons kweekhuis. Ons maak ’n sous van Carolina Reaper.