Toe ek so 50 was, het ek my lewenslange droom verwesenlik om te gaan boer. Ek het besluit ek wil met iets unieks boer en het vier jaar lank navorsing en klein proewe gedoen om te bepaal of saffraan kan werk.
Ek boer sedert 2018 daarmee en het sowat 2,5 ha geplant. Ons verskaf ook saad en raad aan ander boere. Daar is sowat 5-6 ha reg oor Suid-Afrika. Dit klink min, maar saffraan kan op ’n klein stukkie grond ’n baie goeie inkomste lewer.
Dit groei in die Mediterreense streke, maar Iran is die grootste verbouer van saffraan en dit word ook in Peru, Australië en Nieu-Seeland geplant. Dit het my laat besef dié plant kan eintlik oral aard, hoewel dit beter presteer in sekere klimaatsones.