Ons boer met die algemene sampioene wat by alle kettingwinkels te kry is. Die witknopiesampioene maak sowat 85% van ons produksie uit, en die res is bruinsampioene. Ons produseer gemiddeld 70 ton sampioene per week en lewer dit in verskeie groottes en verpakkings – van 250 g tot 5 kg-kartonhouers.
Jy moet die regte materiaal gebruik om ’n selektiewe kompos te maak waarin die sampioenspore kan groei.
Ja, ons blansjeer en sny die tweedegraad-sampioene en -stingels en lê dit in ’n soutwateroplossing in. Dit word in plastiekemmers opgeberg en kan vir twee tot drie weke teen 4 °C hou. Ons was die eerste maatskappy in Suid-Afrika wat sampioene op dié manier verwerk het. Só gebruik ons ál die produkte en ly so min moontlik verliese. Die sampioene word hoofsaaklik deur pasteimaatskappye en die spysenieringsbedryf gebruik wat sampioene met ’n langer raklewe verkies.