Ons grootste wortelboere is by Brits en Tarlton, maar eintlik kan ’n mens sê Gauteng is Suid-Afrika se grootste produksiestreek. Daar is nie baie wortelboere in die land nie, maar dié wat dit wel verbou, is taamlike groot boere.
Dit is ’n baie arbeidsintensiewe gewas. Daar is wel opsies om die wortels meganies uit te haal, maar dan moet jy die regte kultivars aanplant, want die blare moet sterk genoeg wees.
Tradisioneel is wortels ’n wintergewas, maar deesdae is die tegnologie en teelmateriaal van die kultivars só gevorderd dat boere dit kan bestuur om regdeur die jaar te lewer.