Hulle hoop dat hulle sodoende kultivars sal kan ontwikkel wat klimaatsverandering kan weerstaan, en terselfdertyd ook ’n plan sal kan maak hoe om ’n stokkie te steek voor die voorkoms van ’n slak wat rysboere toenemend hoofbrekens gee.
Rysplante (Oryza sativa) is besonders gevoelig vir die voorkoms van sout in water. Tans is die water in die meeste rivierdeltas waarin daar in Europa met rys geboer word, egter besig om ál souter te raak weens ’n kombinasie van stygende temperature, hoër seevlakke en waterskaarste.
In 2013 het die regering van Katalonië in Spanje begin om hul ryslande met seewater te vloed om te probeer ontslae raak van die appelslak, ’n plaag wat wêreldwyd groot skade aan opbrengste aanrig, maar waarvoor nog min werklike raad gevind kon word. Die strategie het heel goed gewerk om van die slakke ontslae te raak, omdat hulle nie soutwater goed verdra nie. Ongelukkig het die verhoogde soutvlakke ’n verlies in produktiwiteit van tot 30% in die Spanjaarde se rysvelde veroorsaak.