Die afgelope drie jaar moes die bemarkingsghoeroes wat landbouprodukte boaan verbruikers se inkopielyste hou, kopkrap om by veranderende tye aan te pas. Hul strategieë moes verander en hulle moes nuwe platforms kry waarop hulle met verbruikers kon kommunikeer.
“Ons moes byvoorbeeld in Maart 2020, nadat streng covid-19-inperkingsmaatreëls deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is, oornag ophou om aan uiteet te dink en tuisetes begin bemark,” sê me. Glynnis Branthwaite van Pro Tactic, ’n maatskappy wat hom op strategiese kommunikasie toespits.
Sy het op die onlangse Subtrop-bemarkingsimposium op Witrivier gesê daardie inperkingsmaatreëls het ’n hele jaar se vooruitbeplanning van die tafel gevee. “Die inperking het darem tot ’n einde gekom, maar dit het verbruikerspatrone verander, dalk vir altyd.”