
Suid-Afrikaanse sitrusprodusente is bekommerd oor die ongunstige uitwerking van die onlangse versterking van die rand op hul omset dié seisoen. Die algehele vooruitskouing van Suid-Afrika se sitrusuitvoer is laer as 90 miljoen.
Daar sal na verwagting minder Valencia’s en pomelo’s uitgevoer word. Die Valencia-fokusgroep het sy vooruitskouing vir dié seisoen se uitvoer aangepas van 43 miljoen kartonhouers na 40, 5 miljoen kartonhouers. Valencia’s verteenwoordig die grootste deel van Suid-Afrika se lemoenopbrengs.
Die meeste Nawels is reeds verskeep en die beraamde finale uitvoersyfer vir dié sitrusvrug is sowat 20 miljoen kartonhouers - meer as ’n miljoen minder as verlede jaar.
Die uitvoer van pomelo’s word rondom 13, 5 miljoen kartonhouers beraam. Dit is laer as die oorspronklike beraming van 15 miljoen kartonhouers, maar hoër as verlede jaar se 12, 4 miljoen kartonhouers.
Bron:
30 Julie 2009