
Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Pretoria sê die stompkopkewer (Euwallacea fornicatus) het sedert dit in 2012 die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk is, na agt van die land se nege provinsies versprei. Dit is die grootste huidige uitbreking van hierdie indringerplaag ter wêreld. Die kewer het veral ’n impak op bome in stedelike gebiede.
Hul navorsing het bevind as nie ingegryp word om die verspreiding van die kewer te stuit nie, sal 65 miljoen bome verwyder en vernietig moet word. Die verlies vir die plaaslike ekonomie oor die volgende 10 jaar word op R275 miljard geskat.
Die navorsers se bevindings is gepubliseer in die artikel “An assessment of the potential economic impacts of the invasive polyphagous shot hole borer (Coleoptera Curculionidae) in South Africa” in die Journal of Economic Entomology.
Prof. Francois Roets, ’n ekoloog in die US se departement bewaringsekologie, sê ’n boomryke dorp soos Stellenbosch loop die gevaar om 20 000 van sy groot ou eike- en plataanbome te verloor. In Somerset-Wes, waar die stompkopkewer vier jaar gelede vir die eerste keer opgemerk is, is meer as 10 000 bome reeds besmet en van die bome is nou besig om te vrek.
Hy sê bome in stedelike gebiede is meer vatbaar aangesien hierdie bome gewoonlik reeds stres ervaar in ’n stedelike omgewing in vergelyking met dié wat in ’n natuurlike woud voorkom. Mense in stedelike gebiede is ook geneig om meer uitheemse boomspesies te plant, waarvan baie gekloon is en nie die genetiese diversiteit het wat nodig is om nuwe plae af te weer nie.
Nasionale beleid en strategie
Prof. Martin de Wit, ’n ekonoom aan die US se skool vir publieke leierskap, sê as niks gedoen word om die verspreiding van hierdie indringer te bekamp nie, sal munisipaliteite landwyd van 2020 tot 2030 sowat 65 miljoen bome in stedelike gebiede moet uithaal en veilig ontslae raak daarvan.
“Ons benodig ’n nasionale beleid en gekoördineerde strategie vir munisipaliteite om hierdie kewer in sy spore te stuit,” waarsku hy. “Tot op hede is die stompkopkewer nog nie op die regering se lys van uitheemse en indringerspesies wat val onder die nasionale omgewingsbestuur se Wet op Biodiversiteit nie, wat dit vir munisipaliteite moeilik maak om doeltreffend te reageer.”
Prof. Brian van Wilgen, ’n ekoloog van die departement van wetenskap en innovasie en die nasionale navorsingstigting se afdeling vir indringerbiologie en mede-outeur van die studie, sê daar is beperkte opsies vir die bestuur van die kewer. “Gegewe die feit dat dit reeds wydverspreid voorkom, is dit onmoontlik om dit uit te roei. Daar moet daarop gekonsentreer word om die verspreiding te verminder en om die impak daarvan te versag. ’n Eerste stap, en waarskynlik die mees ekonomiese een, sal wees om die vrye beweging van potensieel besmette plantmateriaal, hout en houtprodukte te beperk.”
Die klein stukkie goeie nuus is dat die stompkopkewer nie op eie stoom vinnig kan versprei nie aangesien dit slegs kort afstande kan vlieg – van 500 m tot 2 km. Sy vinnige verspreiding in Suid-Afrika is dus hoofsaaklik te wyte aan mense wat hout oor munisipale en provinsiale grense heen vervoer.
Die slegte nuus is dat ’n enkele wyfie ’n nuwe kolonie kan vestig deur slegs ’n manlike nageslag te produseer en dan met hulle te paar.
Hierdie “perfekte indringer” verskaf sy eie kos in die vorm van die swam Fusarium euwallaceae, ’n uitheemse spesie wat saam met die kewer in omloop gebring is. Daar word gewerk aan ’n biologiese middel om dit te bekamp, maar die navorsers waarsku dat dit ten minste ’n dekade sal duur om so ’n middel te ontwikkel – indien een ooit ontwikkel word. Dit kan ook lank duur vir die middel om ’n impak op die verspreiding van die kewer te maak.
Tot op hede is daar geen getoetste en goedgekeurde insek- of swamdoder in Suid-Afrika geregistreer waarmee die stompkopkewerbesmetting bekamp kan word nie.
Impak op sagtevrugtebedryf
Dr. Wiehann Steyn, hoofbestuurder van Hortgro Science, sê die stompkopkewer het nog nie in hierdie stadium ’n regstreekse impak op die sagtevrugtebedryf nie.
“Die stompkopkewer het na ’n paar kommersiële sagtevrugteboorde versprei in die omgewing van Somerset-Wes waar dit voorheen nog net op ornamentele bome voorgekom het. Sagtevrugtebome in huistuine is voorheen besmet, maar daardie bome was waarskynlik onder stres en nie verteenwoordigend van gesonde bome in ’n boordopset nie.”
Hy sê volgens die US se navorsing kan Fusarium euwallaceae wel in sagtevrugtebome oorleef.
Hy sê ’n gekoördineerde aanslag is nodig om die verspreiding van die stompkopkewer te stuit aangesien huistuine, straatbome en natuurlike plantegroei daardeur geraak word en bydra tot die verspreiding daarvan.
Hortgro is besig om ’n stompkopkewer-bestuurskomitee vir die sagtevrugtebedryf op die been te bring.