
Tuks Landbou poog om studente die geleentheid te bied om met verskeie mense in die landboubedryf te skakel.
Dit skep ook moontlike loopbaangeleenthede vir studente. Uitstappies na landboumaatskappye en landbouverwante dae en byeenkomstighede word ook beplan om die studente se horison in die professionele landboubedryf te verbreed. Dit sal ook die studente die geleentheid bied om hulle klasteorie in perspektief te plaas met die praktyk.
In die laaste kwartaal van 2013 het hulle 'n groentetuinprojek by twee skole, die Laerskool Silverton en die Laerskool Meyerspark, begin. Die doel van die tuine is om die kinders by die skool die basiese beginsels van groenteverbouing te leer en dan op 'n mentorvlak met hulle te kommunikeer en hulle eienaarskap en verantwoordelikheid te leer, sê Pieter Botes, die voorsitter.
Studente en lede van Tuks Landbou het die leerders van hierdie skole toe gaan wys hoe om blaarslaai en kool te plant. “Ons wou die kinders leer waar groente vandaan kom, hoe om groente te plant, wat ’n plant benodig om te groei en wat is die eindproduk daarvan. Die kinders het dit baie geniet en was baie ywerig om te leer,” sê Botes.
Daar is ook ’n prysuitdeling gehou waarna die borge uitgenooi is en waar aan die leerders erkenning gegee is vir dit wat hulle met die groentetuine bereik het.
Tuks Landbou beoog om nou meer skole te betrek om meer kinders aan te moedig om self 'n groentetuin te begin. Dit is vir hulle belangrik om van jongs af al in die gemeenskappe 'n belangstelling in boerdery te kweek.