
Die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryfsorganisasie (Sati) verwag dat sowat 71,7 miljoen kartonhouers (4,5 kg-ekwivalent) in die komende oesjaar uitgevoer gaan word.
“Sou historiese neigings oor die geïnsperkteerde volumes en die uitgevoerde volumes hulself herhaal, kan dit beteken dat die aantal kartonhouers wat in werklikheid uitgevoer word, tot onder 70 miljoen val,” lui ’n mediaverklaring deur Sati.
Verlede jaar het tafeldruifboere altesaam 77,1 miljoen kartonhouers geproduseer, waarvan 74,57 miljoen uitgevoer is, berig www.producerreport.com.
Redes vir kleiner oes
Hoewel meer van die nuwegenerasie-kultivars in produksie gaan kom met hoër verwagte opbrengste, het die totale wingerdstand die afgelope jaar met sowat 1% afgeneem tot 20 379 ha. Die hektare in voldrag is ook 1% minder, op 18 765 ha.
“Daar is ’n groter klem om oesladings te bestuur ter wille van gehalte om seker te maak die druiwe voldoen aan die verwagte reistye na die markte toe, ook gegewe logistieke faktore. Ons verwag ook dat die persentasie druiwe wat vir die plaaslike mark verpak word of vir rosyntjieproduksie aangewend word, gaan toeneem.”
Die grootste verwagte afname in volumes is in die Oranjerivier en die noordelike streke, waar ’n inkrimping van 12-17% verwag word. In die Olifants-, Berg- en Hexrivierstreke sal volumes met sowat 4-6% daal.
“Ons verwag om ’n volgehoue opwaartse neiging in wit, pitlose druiwe in sekere streke te sien. Produsente bly toegespits op gehalte, beide op die plaas en tydens die kouekettingproses. Hulle is toegewyd om Suid-Afrika se posisie te behou as die voorkeurland van oorsprong vir kleinhandelaars reg oor die wêreld.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.