In die dorre suide van Namibië,
waar vee gewoonlik die enigste boerdery is, het 'n boer 'n slim plan beraam om
sy kontantvloei te verstewig deur groente te kweek en verskeie dorpe van vars
produkte te voorsien.
In die warm bolope van die Visrivierravyn in die suide
van Namibië is die water vlak onder die verskroeide grond. Dit reën baie min -
wat dit moeilik maak om 'n bestaan uit veeboerdery te maak. Daarom het mnr.
Hennie Pearson en sy gesin begin groente kweek in tonnels wat die plante teen
die klimaat van uiterstes beskerm.
Hulle plant hoofsaaklik tamaties,
komkommers en groenrissies wat hulle op Lüderitz en Keetmanshoop bemark. Daarby
is hulle voortdurend besig met proewe om te kyk wat nog goed aard in die tonnels
en waarvoor daar 'n vraag bestaan.
Mnr. Pearson, 'n man met 'n passie vir
boerdery, sê hy wou met vee boer en Klein Kuibis-Süd, tussen Keetmanshoop en
Lüderitz, was die plaas wat by sy beursie gepas het. 'n Goeie plaas vir
Karakoelskape as die pelspryse reg is, maar te klein om werklik te vorder as 'n
mens net vee aanhou.
Die reënval is gemiddeld 125 mm per jaar en om die 9 048
ha ten beste te benut het hy verskillende kleinveerasse beproef. Afgesien van
die harde omgewing is roofdiere, soos rooikatte, 'n probleem en vandag boer hy
met sowat 60 % Boerbokke en 40 % skape ('n Afrikaner-Van Rooy-kruising) wat
tropgebonde is en roofdiere nie so maklik ten prooi val nie.
Maar hy het
besef hy moes iets ekstra doen om sy inkomste aan te vul en die veegetalle te
verminder om sy veld volhoubaar te benut.
Vroeër jare het die boere in die
winter met hul vee in die rigting van die Namib getrek, maar deesdae moet die
vee jaardeur op die plaas bly.
Die plan om groente te verbou, is ook gekoppel
aan die geskiedenis van die plaas. Dekades gelede voor die gruis- en later
teerpad gebou is, het die hoofpad naby die opstal verbygeloop. As 'n mens van
die opstal af in die kloof uitry, is die murasies van die pioniershuise langs
die fontein waar palmbome groei, nog sigbaar.
Met dié fonteinwater is
groentebeddings en vrugteboorde besproei en die vars produkte is met togwaens na
die toentertydse vooruitstrewende delwersdorp Kolmanskop en die hawedorpie
Lüderitz gebring.
Maar dit sou net slaag as hy deur die jaar 'n bestendige
produksie kon lewer om 'n goeie afset te vestig. Daarvoor sou hy die plante teen
die uiterstes in die klimaat moes beskerm en omdat daar nie baie bewerkbare
grond is nie, was tonnels die antwoord. Ses tonnels van 8 m wyd en 30 m lank is
opgerig.
Hy het met kenners gesels en die watergehalte laat toets, want
ondergrondse water is volop en betreklik vlak. Vir tamatieverbouing is die water
effens alkalies en die pH moet aangepas word.
Die ideale temperatuur vir die
verbouing van tamaties is 18 °C tot 28 °C, maar in dié gebied styg die
temperatuur in die somer maklik tot 38 °C in die skaduwee, wat die temperatuur
binne die tonnels tot 50 °C kan laat styg.
Om dié probleem die hoof te bied,
het hy die tonnels só opgerig dat die suidwestewind, wat die meeste van die tyd
waai, kan help met ventilasie. Die punte van die tonnels kan heeltemal oopgemaak
word.
In die winter daal die temperatuur nie maklik onder die vriespunt nie
en die laagste wat die temperatuur gewoonlik in die tonnels daal, is 10
°C.
Die plante word geplant in swart plastieksakke van 10 l in skoon saagsels
van hout wat nie chemies behandel is nie. Die bemesting en spoorelemente word in
'n tenk gemeng en in die besproeiingswater ingepomp sodat dit deurlopend
toegedien word.
Milena- en Durinta-tamaties word gebruik omdat dié kultivars
die hitte die beste verdra en terselfdertyd goed weerstand teen siektes
bied.
Die saad word in saailaaie in fyn potgrond geplant en sowat agt weke ná
opkoms word nagenoeg 3 000 plante in die plantsakke in die tonnels uitgeplant
waar die opleidrade in posisie bly. Sowat 600 plante word in een tonnel
geplaas.
Die plantsakke word met saagsels gevul, wat dan sopnat gemaak en
gesteriliseer word. Net een plantjie word in elke sak geplant en daarna word dit
in posisie in die tonnel geplaas en 'n waterpypie aan elke sak geheg.
In
matige toestande word die plante elke uur 'n minuut lank besproei. Dit vereis 8
000 l water per dag, maar as dit baie warm word, word die plante elke uur twee
minute lank besproei en dan word tot 13 000 l water per dag toegedien.
Vir
jong plante word deurentyd 113 mg stikstof, 62 mg fosfor en 199 mg kalium per
liter water toegedien en vir volwasse plante 144 mg stikstof, 62 mg fosfor en
119 mg kalium per liter water. Daarby word spoorelemente soos boor, koper,
chloor, mangaan, molibdeen, sink en yster teen vasgestelde hoeveelhede by die
besproeiingswater gevoeg en deurentyd toegedien.
'n Vasgestelde spuitprogram
teen swamsiektes en insekte word deurentyd gevolg. Een week word teen
swamsiektes gespuit en die volgende week teen insekte. Hulle is nou besig om
stelselmatig na die biologiese bekamping van dié plae oor te skakel.
Sowat
agt weke nadat die tamaties uitgeplant is, kan hulle begin pluk. Ná sowat drie
maande bereik die produksie 'n piek van ongeveer 225 kg tamaties per tonnel per
week en daarna begin dit stelselmatig afneem.
Die tamaties word hoofsaaklik
op Lüderitz in sakkies van 1 kg elk (of los) bemark en hulle kry gemiddeld
R5/kg.
Komkommers
Die saad van Engelse komkommers (Carmen F1) word
regstreeks in die groot plantsakke in die tonnel geplant met 'n handvol kompos
bo-op. Sowat ses weke ná planttyd, pluk hulle die eerste komkommers. Die plante
produseer sowat vyf maande lank.
Altesaam 500 plante word in 'n tonnel
geplaas wat sowat 500 komkommers per week produseer wat teen R2,50 tot R3 per
komkommer op Lüderitz bemark word.
Die komkommers groei welig en dra só goed
dat elke tweede komkommer uitgesnoei moet word om die vrugte groot genoeg te
laat word.
'n Proefneming met groenrissies was ook baie geslaag. Hulle het 'n
halwe tonnel geplant (sowat 250 plante) en oor 'n tydperk van vyf maande het
hulle 10 kg rissies per plant geoes. Die groenrissies word los bemark teen
R9/kg. Die plante was met die skryf hiervan al 'n jaar oud en het steeds goed
geproduseer.
Die besproeiingstelsel word met 'n rekenaar beheer sodat alle
plante elke uur water kry. àl wat gedoen moet word, is om gereeld die bemesting
in die mengtenk te sit sodat dit deur die water toegedien kan word.
Die
besproeiingstelsel word met 'n kragopwekker en 'n stel batterye aangedryf. Die
kragopwekker loop vyf uur per dag en daarna word die opgebergde krag deur 'n
omsetter voorsien.
'n Voorvereiste vir welslae met dié soort boerdery is
volgehoue lewering. Daarmee bou 'n mens 'n goeie en bestendige mark, maar die
nadeel is dat die boer heeljaar werk. In hul geval is minstens twee tonnels
deurentyd in volle produksie, sê mnr. Pearson.
28 Junie 2002