Padstalle al langs die N1 berei ’n besoeker van die binneland op pad Wes-Kaap toe subtiel voor op wat daar in die Boland te wagte kan wees.
Ondanks die uitlokkende reuk van roosterbrood en gemmerbier trek dit nie die aandag af van die bottels Kaapse wyn nie wat, ten koste van die ou Afrikaanse boeke, konfytbottels en vrieskaste vol Karoolam, ál meer rakplek opneem namate die roete tussen die wingerde deur die Hexriviervallei verby Worcester en anderkant die Hugenotetonnel in ’n delta van blou berge, fynbos, granietrotse en priële uitmond.
Nét onder Tafelberg se kabelkar is ’n wynproe immers altyd in ’n goeie tweede plek op toeriste se doenlysie. ’n Boks met bottels wyn pas gewoonlik knus in langs ’n smuktassie in ’n motor se volgepakte kattebak.