* Die volgende eenjariges kan gesaai word: Gousblomme, ridderspore, weeskindertjies, Yslandse papawers en vygies.
* Pelargoniums kan teruggesnoei word tot die helfte van die normale grootte. Die stukke wat afgesny word, kan bewortel word om jou versameling uit te brei.
* Kannas sal baat vind as 50 g 2:3:2 oor elke bos se wortelgebied gestrooi word. Maak dan baie goed nat.
* As wit, immergroen varkore (Zantedeschia) en agapante te dig op mekaar gegroei het, kan dit uitgehaal en verdeel word.
* Die volgende winterblommende bolle kan geplant word: Maartlelies, lachenalias, freesias, anemone, ranonkels en veltheimias.
* Voed die grasperk met 50 g 2:3:2 per vierkante meter en gee dan goed water, verál as dit baie warm en droog is.
* Bedek die wortelgebied van alle struike met 'n deklaag kompos en maak gereeld nat.
* Asaleas en kamelias moet genoeg water kry, want dit begin nou blomknoppe vorm.
* Begin pronkertjies plant in beddings wat klaar voorberei is.
* Begin die saailinge van broccoli, spruitkool, kool en snybeet uitplant sodat dit nie te lank in die saadbakkies word nie.
*Die volgende groente kan gesaai word: Andyvie, blomkool, kool, seldery, stamboontjies, uie en witwortels.
* Oes die saad van karwy, koljander, dille, anys en vinkel voordat dit ryp word en self afval.