
Mnre. Eugene Roos en Louis de Kock, stigterslede van die aanlyn handelplatform Nile.ag, meen die grootste mark vir landbouprodukte in die toekoms gaan ’n virtuele mark gaan wees en hulle is vol vertroue dat Nile hierdie mark gaan huisves.
“Ons is besig om ’n digitale inligtingstelsel te bou wat ons glo die manier waarop die landboubedryf funksioneer, gaan verander,” het Roos op die onlangse Fresh Solutions-byeenkoms van die internasionale vereniging vir vars produkte (IFPA) se vergadering in Johannesburg gesê.
Die feit dat China se grootste aanlyn handelplatform, Pinduoduo, ’n landbouplatform is en dat een van die grootste onlangse beleggings in waagkapitaal plaaslik in Aerobotics was, getuig van die kernrol wat tegnologie in die landbousektor begin speel, sê Roos.
As e-handelplatform verbind Nile kopers en verkopers direk met mekaar. Dit streef om vars produkte toegankliker te maak vir verbruikers van oral oor. Meer as die helfte van die produkte wat op die Nile-platform verhandel word, strek oor verskillende landsgrense.
Behalwe om transaksies te digitaliseer en onnodige middelmanne uit te sny, streef Nile ook daarna om logistiek te optimaliseer en die kortste, doeltreffendste roete tussen koper en verkoper te kry.
Daar is reeds meer as 200 primêre produsente wat meer as 500 unieke produklyne weekliks op die Nile-platform verhandel. Kopers is versprei oor meer as 40 stede in tien lande.
Daar is byvoorbeeld vanjaar al meer as ’n miljoen sakkies aartappels uit Limpopo op die Nile-platform verkoop. Vars produkte wat op die platform verkoop is, is onder meer na die Demokratiese Republiek van die Kongo, Senegal, Indië en die meeste van Suid-Afrika se buurlande verskeep.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.