Suid-Afrika se eens trotse varsproduktebedryf is aan die verval, oud en uit pas met die eise van die tyd om op die voorgrond van die varsproduktehandel in Suid-Afrika en die groter Afrika-vasteland te bly. Die markte gaan nou al vir jare stadig, maar seker agteruit.
Die infrastruktuur is oud en afgeleef, koel- en rypmaakkamers werk nie meer nie of is op geleende tyd, en die tegnologie is verouderd. Die markte is in die algemeen vuil en sal kwalik huidige voedselveiligheidsvereistes slaag. Voorts bly die werking hiervan “verdag” en ondersoek ná ondersoek volg.
Tans word die Tshwane-mark bekyk en dit blyk dat die ondersoek na die Johannesburg-mark nog nie afgehandel is nie. Die stelsel waarvolgens die markte bedryf word, dateer uit die 1970’s.